Gholf: Rohwer en Bremner wen Bain’s-toernooi

(Foto: Kloof Country Club/Facebook)

Die span van Martin Rohwer en Merrick Bremner het die Bain’s Whisky Ubunye-kampioenskap by die Blue Valley-gholflandgoed in Johannesburg met ses houe gewen.

Hulle het die laaste ronde afgeslaan met ʼn voorsprong van vier houe, maar die span van Combrink Smit en Erhard Lambrechts het planne van hulle eie gehad om Rohwer en Bremner in te katrol.

Smit het ʼn kolhou op die tweede putjie aangeteken en Lambrechts het ʼn albatros op die syfer-5 derde putjie op sy telkaart ingevul. Rohwer het sy kaphou in die putjie geslaan vir ʼn arend op die tiende putjie en Bremner se voëltjie op die 13de het hulle weer asem laat haal.

Dit is die 36-jarige Bremner se eerste oorwinning sedert 2020.

Smit en Lambrechts het die tweede plek gedeel met die span van Jean Hugo en Hennie du Plessis.

Die Amerikaner J.J. Spaun (-13) klou vas aan ʼn voorsprong van een hou by die St. Jude-kampioenskap op die Amerikaanse PGA-toer. Hy het voëltjies op twee van sy laaste drie putjies aangeteken om sy derde ronde op die TPC Southwind-baan in Memphis, Tennessee in 68 houe te voltooi.

Die Oostenryker Sepp Straka (-12) het ʼn brouhou op die agtiende putjie aangeteken en is een hou agter Spaun. Die Australiër Cameron Smith (-11) wat onlangs die Amerikaanse Ope gewen het, is net twee houe agter Spaun.

Die Suid-Afrikaner Dylan Frittelli (-8) het ses voëltjies in sy derde ronde aangeteken, maar brouhoue op die 12de en 17de putjie het sy kanse verongeluk om onder die voorlopers te wees.

Dit was ʼn rampspoedige dag vir die ander Suid-Afrikaner in die toernooi. Christiaan Bezuidenhout (+1) het ʼn liederlike 76 op sy telkaart ingevul. Op die eerste nege putjies het hy vier voëltjies en vier brouhoue aangeteken. Dubbele brouhoue op die 12de en 15de putjies asook brouhoue op die 14de, 17de en 18de putjies het sy ronde ontspoor.

By die ISPS Handa-toernooi in Noord-Ierland wat deel is van die DP World-toer (voorheen die Europese toer) het die Skot Ewen Ferguson (-11) is voorsprong van drie houe na die derde ronde.

Hy word gevolg deur die Amerikaner John Catlin (-8).

Die Suid-Afrikaners Wilco Nienaber en Thomas Aiken is tien houe agter Ferguson.

In die vroue-afdeling van die toernooi, is die Suid-Afrikaner Lee-Anne Pace (-4) net twee houe agter die Amerikaner Amanda Doherty (-6). Pace het haar derde ronde in 70 houe voltooi, maar dit was die tweede nege putjies wat haar laat struikel het. Sy het oor die eerste nege sewe voëltjies en ʼn brouhou aangeteken, maar drie brouhoue oor die tweede nege het ʼn uitstekende ronde verongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.