Gholf: Rory-hulle op Scott se spoor

Adam Scott tydens die tweede ronde van die BMW-kampioenskap. (Foto: Rob Carr/Getty Images/AFP)

Die Australiër Adam Scott is met een hou voor ná die tweede ronde van die BMW-kampioenskap wat by die Wilmington-buiteklub in Delaware in Amerika beslis word, maar van die wêreld se beste gholfspelers blaas in sy nek.

Scott het tellings van 65 en 69 (134, -8) aangeteken in die tweede toernooi van die FedEx-beker se uitspeeltoernooie (Amerikaanse PGA-reeks) om te bepaal watter 30 spelers in die komende geldryke Toerkampioenskap sal speel.

Scott word deur Scottie Scheffler, die wêreld se tweede voorste speler op die ranglys, Jordan Spieth en Cameron Young (almal Amerika) asook Corey Conners (Kanada) op 135 gevolg, met die Noord-Ier Rory McIlroy (136) wat ook in die wedloop is nadat hy tellings van 68 en 68 aangeteken het.

Scott, wat twee weke gelede slegs 77ste op die FedEx‑beker-ranglys was, was nie eens seker dat hy in die BMW-toernooi sou speel nie. Maar nadat hy verlede week vyfde in die eerste FedEx-toernooi geëindig het, was sy weg gebaan.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (140, -2) is in die 33ste posisie.

* In Praag loop Gavin Green van Maleisië (130, -14) met drie houe voor ná die tweede ronde van die Tsjeggiese Meesters, wat op die Albatros-baan beslis word.

Green word deur Richard Mansell van Engeland, Marcel Schneider (Duitsland) en Thomas Pieters (België) op 133 gevolg, met Suid-Afrika se Louis de Jager (134, -10) wat ook sy spiere bult.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence (137, -7), Wilco Nienaber (138, -5) en Zander Lombard (139, -5) is ook binne trefafstand, terwyl Thomas Aiken en Hennie du Plessis (albei 142, -2) net-net die afsnypunt gehaal het.

* In die Europese Aramco-vroue-toernooi wat in Sotogrande in Spanje beslis word, is die twee Korda-susters, Jessica en Nelly (hulle is die dogters van die gewese tennister Petr Korda), besig om amok te maak.

Jessica is op 129 houe (-15) ses houe voor ná die tweede ronde, gevolg deur Pauline Bouchard (Frankryk) op 135 (-9) en Nelly Korda (136, -8).

Jessica Korda, wat 61 houe in die eerste ronde aangeteken het, het die laagste telling nog in die Europese reeks vir vroue geëwenaar.

Suid-Afrika se Lee-Anne Pace is op 142 (-2) goed geplaas, terwyl Stacy Lee Bregman en Nicole Garcia (148, +4) daarin geslaag het om vir die laaste twee rondes te kwalifiseer.

* In die plaaslike Sonskynreeks het Albert Venter die SunBet-uitdaagtoernooi, wat by Wingate in Pretoria gespeel is, met ses houe gewen.

Venter, wat vyf houe ná die tweede ronde voor was, het Vrydag op 203 houe geëindig, met Ruan Korb (209) tweede en Estiaan Conradie (210) derde, gevolg deur Michael Palmer (211) en Jean Hugo (212).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.