Gholf: SA se jonges beur steeds na vore

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Drie van die jongelinge van Suid-Afrikaanse gholf is steeds ingegrawe om saam met die wêreld se beste spelers in Amerikaanse PGA-reeks skouer te skuur, terwyl ʼn 46-jarige veteraan in Swede sy stempel in die Europese reeks afdruk.

Die 21-jarige Wilco Nienaber (in sy debuut in die Amerikaanse PGA-reeks) en 31-jarige Erik van Rooyen (albei 136 houe) is ná die tweede ronde in die gesamentlike vierde posisie in die Palmetto-kampioenskap wat by die Congaree-buiteklub in Ridgeland in die VSA beslis word, met die 22-jarige Garrick Higgo (137) wat net ʼn verdere hou terug is.

Chesson Headly van Amerika is die voorloper op 131 – elf houe onder die baansyfer, gevolg deur Dustin Johnson (-9) in dié toernooi.

* By die Vallda-buiteklub in Swede, wat so 40 kilometer buite Gothenburg geleë is, is Darren Fichardt (133 houe) in die derde posisie ná die tweede ronde van die unieke Skandinawiese toernooi vir mans- en vroue.

Dié toernooi, waaraan 78 van die voorste mans en 78 vroue-spelers deelneem, word onder die vaandel van Henrik Stenson en Annika Sorenstam aangebied en almal ding om dieselfde prysgeld mee.

Caroline Hedwall van Swede (131 houe, 13 houe minder as die baansyfer) loop voor ná haar rondtes van 67 en 64. Sy is een hou voor die Nederlander Joost Luiten (132) met Fichardt en Darren Brown (Engeland) saam vierde op 133.

Jacques Kruiswijk (135), Zander Lombard (137) en Haydn Porteous en Lee Anne Pace (albei 140) is ook nog stewig in die wedloop.

* Om sake af te rond, is Retief Goosen (68) saam met twee ander Major-wenners, Fred Couples en Jim Furyk gesamentlik vierde in die American Family Insurance-toernooi vir seniors wat in Wisconson beslis word.

Die Spanjaard Migel Angel Jimenez (65) is voor en word gevolg deur Jerry Kelly.

Ernie Els (72) is in die gesamentlike 34ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.