Gholf: SA spelers blaas warm in München

Louis Oosthuizen. Foto: Ezra Shaw/Getty Images/AFP.

Die land se voorste gholfspelers sak jaarliks toe op die BMW-gholftoernooi wat by die München Eichenreid-buiteklub in Duitsland gespeel word en stel beslis nie teleur nie.

Die Ier Niall Kearney (133, -11) is die voorloper ná die tweede ronde van dié toernooi, maar ʼn rits Suid-Afrikaners is tussen die voorlopers.

Kearney is twee houe voor vyf spelers van vyf verskillende lande met Suid-Afrika se Shaun Norris (136) wat dan volg.

Die vyftal op 135 houe is Viktor Hovland van Noorweë, Masahiro Kasamuro van Japan, die Fransman Adrien Saddier, die Oostenryker Bernd Wiesberger en die Spanjaard Jorge Campillo.

Louis Oosthuizen (137), wat kans gesien het om van die VSA na Duitsland te vlieg ná verlede naweek se Amerikaanse Ope in San Diego, het tellings van 70 en 67 aangeteken.

Van die ander Suid-Afrikaners is Darren Fichardt, Justin Harding en Justin Walters saam in die 18de posisie op 138, net vyf houe agter Kearney.

Louis de Jager (140) en Jacques Kruiswijk en Danie van Tonder (albei 141) is ook in die wedloop met Zander Lombard en Dean Burmester (albei 142) wat ook vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het.

* In die Amerikaanse PGA-toernooi vir vroue wat in Atlanta in die VSA beslis word, loop Nelly Korda (133) voor ná haar rondetellings van 70 en 63.

Sy word ná twee rondes gevolg deur haar Amerikaanse landgenoot Lizette Salas (134) met Alena Sharp van Kanada, Cydney Clanton van die VSA en Celine Boutier van Frankryk op 137.

Korda se ouer suster, Jessica, is op 141, met Suid-Afrika se Paula Reto wat net-net gekwalifiseer het op 146.

Die Korda-susters se jonger broer, Sebastian, is een van die VSA se opkomende tennisspelers en is 50ste op die wêreldranglys.

Pa Petr, wat jare gelede een van Tsjeggo-Slowakye se beste tennisspelers was, het onder meer die Australiese Ope gewen en was in die eindstryd van die Franse Ope in die enkel- en dubbelspel.

Petr is met Regina Rajchrtová getroud wat haar land in 1988 in Seoel op die tennisbaan by die Olimpiese Spele verteenwoordig het. Sy het drie titels in haar tennisloopbaan gewen.

Nou troon hul twee dogters op die gholfbaan uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.