Gholf: SA’ners dun gesaai in eindronde

Die toernooi is deur David Lipsky (VSA) met twee houe gewen en hy het meer as R3,7 miljoen in sy sak gesteek (14 Desember 2018). Foto: Carl Fourie/Sunshine Tour/Gallo Images

Die 2018 Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek in Mpumalanga is deur die oorsese spelers oorheers.

Die toernooi, met ʼn totale prysgeld van R23 miljoen, is deur David Lipsky (VSA) met twee houe gewen en hy het meer as R3,7 miljoen in sy sak gesteek.

Die laaste ses toernooie op Leopard Creek is deur Suid-Afrikaners gewen. Vanjaar kon egter net 26 Suid-Afrikaanse spelers vir die laaste twee rondes kwalifiseer terwyl 44 die afsnypunt misgeloop het.

Een van die vorige kampioene, Charl Schwartzel, was ook een van dié 44 spelers. Schwartzel was die kampioen in 2005, 2013, 2014 en 2016.

Uiteindelik was daar net een Suid-Afrikaner onder die ses top-spelers op die voorloperbord.

Met die aanbreek van die finale dag se spel was Scott Jamieson (SKO) die voorloper met een hou.

-11 Scott Jamieson (SKO)
-10 David Lipsky (VSA) 70-66-70
-8 Zander Lombard 71-69-68, Brandon Stone 69-70-69
-7 David Drysdale (SKO) 69-69-71, Raphael Jacquelin (FRA) 68-75-66, Pablo Larrazabel (SPA) 69-73-67, Marc Warren (SKO) 70-67-72

Ná die eindronde was Lipsky se naam aan die bopunt van die finale voorloperbord. Lipsky het die eerste nege putjies in 31 houe voltooi wat vier beter as baansyfer is en hy was op -14. Lipsky was toe reeds vyf houe voor. Die tweede nege het hy in 37 houe voltooi wat gelyk aan baansyfer is om die toernooi op -14 af en as wenner af te sluit. Dit was Lipsky se eerste besoek aan Leopard Creek.

Zander Lombard. (Argieffoto: Michael Sherman/ANA)

Die enigste Suid-Afrikaner in die wedloop op die laaste dag, Zander Lombard, het op die 15de en twee keer op die 16de putjie sy balletjie in die water geslaan wat die einde van sy aanslag beteken het.

Brandon Stone se aanspraak op nog ʼn titel het vroeg in die laaste ronde reeds verflou. Brandon het ook op die 15de én die 16de dubbel-brouhoue aangeteken.

Finale telbord:

1 David Lipsky -14
2 David Drysdale -12
3 Zander Lombard -11
Scott Jamieson -11
5 Oliver Wilson -8
Ben Evans -8
7 Niklas Lemke -7
Louis Oosthuizen -7
9 Pablo Larrazabal -6
Oliver Bekker -6

Van die ander bekende spelers het só geëindig:

15 Brandon Stone -4
18 Christiaan Bezuidenhout -3
26 George Coetzee -2
Ernie Els -2
Erik van Rooyen -2

Vroeër die dag het die Aussie Deyen Lawsen ʼn kolhou op die 16de putjie behaal toe hy die bal van die bof af tot in die blikkie geslaan het.

Kliek hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.