Gholf: Schwartzel laat SA vlag in Texas waai

Charl Schwartzel se gholfstokke (Foto: Jonathan Wall, Twitter)

Van die land se voorste gholfspelers het die kans aangegryp om die kollig op hulle te laat skyn in toernooie oor die hele wêreld.

Charl Schwartzel (131, -13) is by die TPC Craig Ranch in Texas net twee houe agter die voorlopers, Sebastián Muñoz van Colombia en die Amerikaners Ryan Palmer en David Skins (129, -15), ná die tweede ronde van die Byron Nelson-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Schwartzel is gesamentlik vyfde nadat hy tellings van 66 en 65 in die eerste twee rondes op sy telkaart ingevul het.

Die toernooi is die ideale kleedrepetisie vir volgende week se PGA-toernooi, vanjaar se tweede Major, waar die wêreld se voorste spelers meeding.

Dylan Frittelli en Christiaan Bezuidenhout is saam 38ste op 137, met Dawie van der Walt (138) en Branden Grace (139) ook in die wedloop.

Wat die PGA betref, het die verdedigende kampioen, die 51-jarige Amerikaner Phil Mickelson, hom onttrek.

Daar heers ’n vraagteken oor Mickelson se loopbaan, aangesien hy een van die spelers is wat hom tot Greg Norman se omstrede LIV-reeks verbind het, wat deur Saoedi-Arabië geborg word en die gholfbase die harnas injaag.

* By die Rinkven-buiteklub in Antwerpen, België, is OIiver Bekker een van nege spelers wat op 136 (-6) in die gesamentlike sesde posisie is in dié Europese toernooi in die Dubai World Tour-reeks.

Bekker het 67 en 69 houe in die eerste twee rondes aangeteken en is net twee houe agter die voorlopers, Sam Horsfield en Dale Whitnell (albei Engeland) en die jong Duitser Matthias Schmid wat almal op 134 (-8) een hou voor Richard Mansell (Engeland) en Ricardo Santos (Portugal) is.

Suid-Afrika se Hennie du Plessis en JC Ritchie is albei op 137 (-5) in die 15de posisie, met Triston Strydom (141) verder terug.

* In die Founders-toernooi vir vroue (Amerikaanse LPGA-reeks wat by Mountain Ranch in New Jersey beslis word) is Suid-Afrika se Paula Reto (136) ná tellings van 69 en 67 in die sesde posisie.

Min-Jin Lee van Australië is op 130 (-14) drie houe voor Madalena Sagström van Swede en Lexi Thomson en Ally Ewing (albei Amerika) wat op 133 houe geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.