Gholf: Schwartzel sak uit by Meesters

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: HeungSoon/Pixabay)

Die tafel is gedek vir ʼn opwindende laaste ronde by die Amerikaanse Meesterstoernooi by Augusta.

Die Amerikaner Scottie Scheffler (-9), die nommer een speler op die wêreldranglys, se voorsprong was vyf houe na die halfpadmerk. Hy het ʼn wipplank derde ronde gespeel wat ses voëltjies, maar ook vyf brouhoue ingesluit het. Hy sal sy laaste ronde afslaan met ʼn voorsprong van drie houe. Die derde ronde in koue en winderige weer het gewys enigiets kan vandag gebeur.

Die man wat Scheffler jaag is die besnorde Australiër, Cameron Smith (-6). Smith se derde ronde het ses voëltjies en twee brouhoue ingesluit. Sy ronde van 68 houe was die beste van die dag.

Die Suid-Koreaan Sungjae Im (-4) is in die derde plek.

Charl Schwartzel (-2) is saam met die Ier Shane Lowry in die vierde plek. Schwartzel het die derde ronde saam met Scheffler gespeel, maar hy moes tevrede wees met ʼn ronde van 73, een houe swakker as baansyfer. Die Suid-Afrikaner het ʼn bestendige eerste nege putjies gespeel en twee voëltjies en ʼn brouhou op sy telkaart invul. Dit was die tweede nege wat sy ronde ontspoor het.

Hy het ʼn arend op die tiende putjie aangeteken om die gaping tussen hom en Scheffler te verklein, maar brouhoue op die elfde, veertiende, sestiende en sewentiende putjies het sy kanse om die toernooi te wen waarskynlik beëindig.

Tiger Woods (+7) se derde ronde was ook rampspoedig. Hy het dubbele brouhoue aangeteken op die vyfde en agtiende putjies. Hy sal daardie ronde van 78, ses houe swakker as die baansyfer, vinnig wil vergeet voordat hy vandag op Augusta afslaan. Hy is nou in die gesamentlike 41ste plek.

Christiaan Bezuidenhout (+5), die enigste ander Suid-Afrikaner wat die afsnypunt kon maak, het gister sy ronde in 77 houe voltooi. Hy is in die gesamentlike 34ste plek.

Die swakste rondes van die dag het behoort aan die Australiër Adam Scott en Amerikaner Harold Varner lll. Hulle het albei rondes van 80 houe aangeteken, agt houe swakker as die baansyfer.

Schwartzel slaan 20:20 Suid-Afrikaanse tyd af saam met Justin Thomas. Scheffler en Smith se laaste ronde begin 20:40 Suid-Afrikaanse tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.