Gholf: Schwartzel staan sy man op Augusta

Charl Schwartzel in aksie by die Zurich Classic-toernooi. (Foto: Mike Ehrmann/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Daar is sekere dinge in gholf wat jy dalk kan verduidelik, maar veel ander waaroor jy maar net kan kop skud.

Waaroor jy kan saampraat, is dat die wêreld se nommereen-speler, Scottie Scheffler, die voortou met vyf houe ná die tweede ronde van die Amerikaanse Meesters-toernooi geneem het wat op Augusta gespeel word.

Scheffler, wat drie van die laaste vyf toernooie gewen het waarin hy gespeel het, het die winderige toestande op Augusta oorkom toe hy 67 houe, die beste ronde van die dag, aangeteken het om op 136 (-8) te eindig ná sy tellings van 69 en 67 in die eerste twee rondes.

Scheffler het sodoende die toernooirekord oor die eerste 36 putjies geëwenaar. Hy is byna reeds in die pylvak, want volgens die rekordboeke het nog nie een speler sedert 1945 nie kon wen nie wanneer hy só ver voor was nie.

Maar, onthou dis gholf!

Hy word op 141 deur Suid-Afrika se Charl Schwartzel, Sunjae Kim (Korea), Hideki Matsuyama (Japan) en Shane Lowry (Ierland) gevolg.

Nog ʼn Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout (144,) is saam in die 16de posisie, maar Erik van Rooyen (152) en Garrick Higgo (155) kon nie die valbyl vryspring nie, terwyl Louis Oosthuizen hom reeds ná die eerste ronde onttrek het.

Die 46-jarige Tiger Woods, wat die toeskouers in hul duisendtalle lok, het 74 houe in die tweede ronde aangeteken nadat hy 71 houe in Donderdag se eerste ronde aangeteken het. Woods, wat 14 maande gelede in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was, is op 145 (+1) en het gekwalifiseer vir die laaste twee rondes.

Terug by Schwartzel, wat vyf voëltjies op die 2de, 7de, 10de, 13de en 16de putjies aangeteken het, maar sy telkaart effens bederf het nadat hy houe aan baansyfer op die 4de en 11de putjies afgestaan het.

Schwartzel het vroegoggend afgeslaan toe dit byna windstil was en hy het die toestande benut.

Wat sy vertoning só interessant maak, is dat hy vanjaar in ses toernooie nog nie ʼn sent in sy bankrekening kon stort nie nadat hy 121ste (Valspar-toernooi), 82ste (Spelerskampioenskap), 99ste (Arnold Palmer-toernooi), 74ste (Honda-toernooi), 117de (Genesis-toernooi) en 149ste by Pebble Beach geëindig het.

Uit die bloute het dié vaardige speler sy spelpeil herwin, netsoos in 2011 toe hy die Meesters gewen het om hom by sy landgenote Gary Player en Trevor Immelman aan te sluit wat dit voor hom ook vermag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.