Gholf se grofgeskut tref Tshwane

Dylan Frittelli. Foto: AP Photo/Wilfredo Lee

Die Europese Gholf-toer maak hierdie week sy terugkeer na Suid-Afrika wanneer die Tshwane Ope van 1 tot 4 Maart by die Pretoria-buiteklub in Waterkloof gespeel word.

Dis die derde keer dié seisoen dat daar ʼn Europese toernooi in Suid-Afrika gespeel word. Verskeie groot name sal ʼn aanslag op die prysgeld van R15 miljoen maak.

Die Tshwane Ope vorm ook deel van die 2018 Sonskyn-toer. Dié toernooie bied aan spelers die kans om punte op die plaaslike meriete-ordelys, die Europese wedloop na Dubai asook die wêreldranglys te verdien. Om deel te wees van die wedloop na Dubai is uitstekende nuus. Daar is verskeie groot name onder die voorlopers in die wedloop. Rory Mcilroy is tans vierde en Dylan Frittelli sewende.

Die stad Tshwane speel gasheer vir 156 spelers asook die plaaslike- en internasionale media. Die regstreekse televisiedekking sal na 150 lande gebeeldsend word wat 500 miljoen huishoudings sal bereik.

George Coetzee is een van die Suid-Afrikaanse spelers wat die toernooi al ingepalm het toe hy drie jaar gelede die toernooi op indrukwekkende wyse op die laaste putjie beklink het. Vier van die vyf Tshwane Ope-toernooie is deur Suid-Afrikaners ingepalm. Dawie van der Walt (2013), George Coetzee (2015), Charl Schwartzel (2016) en Dean Burmester (2017).

Charl Schwartzel. Foto: Michael Sherman/ANA

Die baan is in 2004 deur Gary Player herontwerp en is byna 6 500 meter lank. Die Deense speler Morten Ørum Madsen het drie jaar gelede ʼn droom- eerste ronde gehad. Madsen het op twee agtereenvolgende putjies ʼn volmaakte gelukhou (ʼn kolhou) op ʼn syfer drie en ʼn arend 3 op ʼn syfer vyf behaal. Dit het beteken hy het vier houe minder as baansyfer op net twee putjies aangeteken.

Van die groeperings vir die eerste twee rondes sluit in dat Haydn Porteous en Thomas Aiken saam sal afslaan. Trevor Fisher Junior en Christiaan Bezuidenhout speel saam terwyl George Coetzee en Erik van Rooyen mekaar geselskap sal hou.

Die eerste ronde begin Donderdagoggend 1 Maart om 06:40 en die toernooi is geskeduleer om Sondagmiddag ten einde te loop. Daar is 68 Suid-Afrikaners in die veld van 156 spelers.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.