Wanneer jy die volgende twee aande na die televisieuitsending van gholf se Toerkampioenskap in Atlanta, VSA, luister, moet jy jou ore maar oophou en die telbord noukeurig dophou.
Hoekom?
Want die Toerkampioenskap, wat deur die top-30 spelers beslis word volgens punte wat die afgelope jaar op die FedEx-ranglys verdien is, word volgens ʼn voorgeestelsel beslis.
Dustin Johnson (meeste punte) is beloon omdat hy bo geëindig het, want hy het Vrydagaand op -10 afgeslaan en Jon Rahm (tweede meeste punte) op -8.
Die derde gekeurde speler het op -7 begin, die vierde gekeurde op -6, en so meer.
Spelers wat tussen 26ste en 30ste geëindig het, het gelyk aan syfer begin.
Dinge sal van nou af meer sin maak, maar steeds sal die tellings en baansyfer nie by mekaar uitkom nie.
Wat is op die spel?
ʼn Ongelooflike prysgeld van sowat R248 miljoen. Dís hoekom die toernooi so gewild is.
Die Amerikaner DJ Johnson (67) en die Spanjaard Jon Rahm (65) is saam voor op -13, gevolg deur nog ʼn Amerikaner, Justin Thomas, op 66 (-11), Rory McIllroy (64, -9) en Abraham Ancer van Mexiko (64, -7).
* Nie een Suid-Afrikaner kon die top-30-lys haal nie.