Gholf: Smith byt vas ondanks gerugte

Australië se Cameron Smith. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Die jong Australiese gholfspeler Cameron Smith steur hom maar min aan praatjies (wat glo binnekort bevestig sal word) dat hy hom binnekort ook by Greg Norman se omstrede LIV-reeks sal aansluit.

Smith, wat ʼn paar weke gelede die Amerikaanse Ope gewen het, is ná die tweede ronde van die FedEx St. Jude-kampioenskap wat by TPC Southwind in Memphis, Tennessee, gespeel word op 132 houe (-8) net drie houe agter die voorloper JJ Spaun van Amerika (129, -11).

Terwyl Smith die afgelope paar dae moes bontstaan oor gerugte dat hy sy rug binnekort op die Amerikaanse PGA-reeks gaan keer, het sake nie voorspoedig vir Rory McIlroy van Noord-Ierland, Scottie Scheffler, Jordan Spieth en Jason Day verloop nie, want nie een van hulle kon vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

Die toernooi is baie belangrik om vir die geldryke FedEx-beker aan die einde van die seisoen te kwalifiseer waarin die 125 spelers met die meeste punte wat hulle deur die jaar ingesamel het, speel. Die top 125 is dan ook daarvan verseker om aanstaande jaar weer in die Amerikaanse PGA-reeks te speel.

Spaun word deur die Amerikaner Troy Merritt en die Switser Sebb Straka (albei 130, -10) gevolg met nog ʼn Amerikaner Denny McCarthy vierde op 131 (-9). Dan volg Smith en nog drie ander spelers op 132.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is Christiaan Bezuidenhout 27ste op 134 ná tellings van 68 en 66 met Dylan Frittelli 33ste op 136 (66, 70).

*  In die Handas-uitdaagtoernooi (wat deel is van die Europese reeks en Dubai World Tour) wat by die Massereene-gholflandgoed in Noord-Ierland gespeel word, loop die Skot Ewen Ferguson voor in die manstoernooi en Amanda  Doherty (Amerika) in die vroue-toernooi.

Spelers, daar is gelyke prysgeld van 1.35 miljoen dollar (bykans R21 miljoen) op die spel, waar spelers in die eerste ronde by Galgrom Castle gespeel het en die tweede ronde op die Massereene-baan beslis is. Slegs die top 60 spelers kwalifiseer vir die laaste twee rondes. Ná 54 putjies word daar verder gesny en net die voorste 35 spelers (mans en vroue afsonderlik) neem aan die laaste ronde deel.

In die manstoernooi is Ferguson (131) voor, gevolg deur Borja Virto (Spanje) op 132 en Filippo Celli (Italië) en Felix Palson (Swede) albei op 133.

Suid-Afrika se Wilco Nienaber (138), Thomas Aiken en Deon Germishuys (albei 140) is ook in die wedloop met Haydn Porteous op 142.

In die vroue-toernooi is Doherty (134, -10) voor, gevolg deur Lauren Coughlin (Engeland) en Denemarke se Emily Kristine Pedersen (albei op 135, -9).

Suid-Afrika se Lee-Ann Pace is op 140 (-5) in die 14ste posisie.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Bain’s Ubunye-kampioenskap (spantoernooi) wat by die Blue Valley-gholflandgoed in Centurion beslis word, loop Merrick Bremner en Martin Rohwer saam voor op 126 houe (-18) ná die tweede ronde (prysgeld van R1,2 miljoen).

Hulle het 66 houe in die tweede ronde aangeteken en is vier houe voor Danie van Tonder en MJ Viljoen, en Jaco Prinsloo en Clinton Grobler (albei spanne op 130, -14) met Luke Brown en Hayden Griffiths en Luca Filippi en Ryan van Velzen op 131 (-13).

George Coetzee en Darren Fichardt is op 132 (-12).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.