Die toeskouers ruk in duisendtalle op na die Ierse Ope-gholftoernooi wat by die K9-gholfklub in Kildare gespeel word om hul Ierse held Rory McIlroy in aksie te sien, maar toe skuif twee onbesonge spelers van Engeland en Indië die kollig van hom af weg.
Die Engelsman Jordan Smith, wat 85ste op die wêreldranglys is en die Indiër Shubhankar Sharma, wat maar 183ste op die ranglys is, loop saam voor op 131 houe, wat 13 houe minder as die baansyfer is.
Sharma was lank die alleenvoorloper in die klubhuis nadat hy vroegoggend vyf voëltjies en ʼn arend in sy tweede ronde van 66 houe aangeteken het. Maar hy is Vrydagmiddag deur Smith ingehaal, wat agt voëltjies oor die eerste 15 putjies aangeteken het en op 65 houe geëindig het.
Ross Fisher van Engeland is op 132 (-12) tweede nadat hy ʼn opeenvolgende 66 houe in perfekte, warm weertoestande aangeteken het.
Hy word gevolg deur Hurly Long van Duitsland (134, -11) wat alleen die vierde posisie beklee.
McIlroy, wat 70 houe in die eerste ronde aangeteken het, het dit met 69 houe in die tweede ronde opgevolg. Hy het die toernooi in 2016 gewen, toe dit laas by die K9-klub beslis is. Maar hy sal sy spelpeil moet lig om vanjaar weer so te maak, want hy is in die gesamentlike 26ste posisie op 139 (-5).
Van die Suid-Afrikaners het Thriston Lawrence ʼn uitstekende 65 houe in die tweede ronde aangeteken en is hy saam tiende op 137 houe (-7).
Louis de Jager (139,-5), Zander Lombard en Erik van Rooyen (albei 141, -3) en Hennie du Plessis (142, -2) het ook hul stemme dik gemaak.
* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Queen City-kampioenskap wat by die Kendale-buiteklub in Cincinatti beslis word, loop Peyun Chien van Taiwan op 130 houe (-14) met vier houe voor die twee Chinese Ruixin Liu en Ruoing Yin van China en Morgane Metraux van Switserland ná die tweede ronde.
Chien het 64 houe in die tweede ronde aangeteken nadat sy 66 houe in die eerste ronde aangeteken het.
Yuka Saso van Japan en Charley Hull van Engeland is saam vyfde op 135 (-9), met die Deen Emily Kristine Pederson, Linnea Strom van Swede, Nasa Hataoka van Japan, Peronne Delacour (Frankryk) en MinJee Lee (Australië) saam op 136 (-8).
Suid-Afrika se Paula Reto (139, -5) is stewig geplaas, maar Ashleigh Buhai 144 (74, 70) kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.