Gholf: Suid-Afrikaners kruip uit hul dop

Louis Oosthuizen in aksie by die Zurich Classic-toernooi. (Foto: Stacy Revere/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Suid-Afrikaanse gholf het vir ʼn hele paar maande in ʼn sluimering verkeer vanweë die Covid-19-pandemie en ander oorsake, maar so byna van nêrens af ry plaaslike spelers dié naweek wêreldwyd op die kruin van die golf.

In New Orleans in die VSA het Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel (197, 19 houe onder die baansyfer) laat Saterdagaand (SA tyd) die voortou met een hou geneem in die Zurich Classic-toernooi nadat hulle 63 houe in die derde ronde van dié spantoernooi aangeteken het.

Hulle word gevolg deur die twee Amerikaners Cameron Champ en Tony Finau asook die twee Aussies Marc Leishmann en Cameron Smith (albei spanne op 198).

Oosthuizen en Schwartzel vul mekaar baie goed aan in beurtspel en beterbal, wat terugstrek na hul loopbane in junior gholf en in die Presidentebekertoernooie, waar hulle nog altyd ʼn gedugte kombinasie was.

* In Las Palmas op die Kanariese Eilande loop die 21-jarige Suid-Afrikaner Garrick Higgo (192) met twee houe voor ná die derde ronde van die Gran Canaria-ope. Higgo, wat in 2020 reeds die Portugese Ope in die Europese reeks gewen het, het 63 houe in die derde ronde aangeteken nadat hy 65 en 64 houe in die eerste twee rondes op sy telkaart ingevul het.

Hy is twee houe voor Mathias Schwab (Switserland), Mathieu Pavon (Frankryk) en die Skot Connor Syme (al drie op 194).

Dean Burmester (197), Zander Lombard (201), Louis de Jager (203) en Justin Walters (205) het ook deeglik van hulle laat kennis neem.

Charl Schwartzel in aksie by die Zurich Classic-toernooi. (Foto: Mike Ehrmann/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

* Op tuisbodem is Daniel van Tonder (208, -8) twee houe voor ná die derde ronde van die Limpopo-kampioenskap, wat by die Euphoria-buiteklub in Mookgophong (Naboomspruit) beslis word en deel is van die Sonskynreeks.

Nog ʼn Suid-Afrikaner, Olivier Bekker, is in die tweede plek terwyl Jaco Prinsloo en Brandon Stone saam met die Noorweër Kristian Johannessen en Marcel Siem van Duitsland derde is op 210.

Van Tonder, wat 74 houe in die derde ronde aangeteken het nadat die wind erg begin waai het, het sy joggie, sy vrou Abi, lof toegeswaai.

Volgens Van Tonder hou sy hom kalm en is haar kennis van die wind en keuse van stokke van die boonste rakke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.