Gholf: Suid-Afrikaners louwarm ná die PGA

Argieffoto van Branden Grace (AP Photo/Matt York)

Dis seker heel te verstane dat die meeste van die 11 Suid-Afrikaanse gholfspelers wat verlede week in die Amerikaanse PGA-toernooi gespeel het, sukkel om die spinnerakke af te skud, want nie een van hulle kon Vrydag hond haaraf maak in die Charles Schwab-toernooi (Amerikaanse PGA-reeks) en die Hinterland-toernooi (Europese reeks) in Denemarke nie.

In Fort Worth in Texas kon Branden Grace (76) nie die eerste ronde van die Charles Schwab-toernooi oorleef nie en het Dylan Frittelli (143) ook nie die valbyl ná die tweede ronde vrygespring nie.

Die Amerikaner Jordan Spieth (129) loop met een hou voor sy landgenoot Jason Kokrak, gevolg deur Patton Kizzire (VSA) asook Sebastian Munoz en Sergio Garcia (albei Spanje) wat op 132 houe geëindig het.

Phil Mickelson, wat verlede Sondag die PGA-toernooi op 50-jarige ouderdom gewen het, het die afgelope twee dae saam met Spieth in die eerste twee rondes gespeel, maar hy kon nie die afsnypunt haal nie nadat hy twee houe meer as baansyfer op sy telkaart ingevul het.

Mickelson was op pad om te kwalifiseer, maar hy het op die 18de putjie met ʼn sethou (vir baansyfer) misluk.

* In Carso, Denemarke, loop die plaaslike Bernd Wiesberger met 131 houe voor, twee houe voor sy landgenoot Matthias Schwab (133) ná die twee tweede ronde van die Vervaardig in Hinterland-toernooi.

Hulle word gevolg deur Alexander Bjork van Swede (134) en dan Richard Bland van Engeland, Pablo Larrazabal (Spanje), Josh Geary (Australië), die Skot Stephen Gallacher en Masahiro Kawamura van Japan (almal op 135).

Suid-Afrika se Haydn Porteous (137) en Brandon Stone (139) draf ook saam, asook die onbekende Suid-Afrikaner Matthiam Keyser (137) wat 1 453 op die wêreldranglys is.

* In Italië is Lejan Lethwaite van Suid-Afrika (136) in die wedloop ná die tweede ronde van die Italiaanse Ope vir vroue.

Eleanor Givens (Engeland) en Lucie Malchirand van Frankryk (albei 132) is saam voor.

Casandra Hall (142) en Stacy-Lee Bregman (152) speel ook in die toernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.