Gholf: Suid-Afrikaners woel in Adelaide

Dean Burmester (Foto: Christian Petersen/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Suid-Afrikaners wat in die LIV-gholftoernooi in Adelaide, Australië, speel, het in die eerste rondte van dié toernooi in gunstige weerstoestande, ’n relatiewe maklike baan en voor duisende toeskouers in ʼn partytjie-atmosfeer gedy.

Die toernooi, die eerste wat in Australië gespeel word, het tot dusver alle verwagtinge oortref.

Dit het die beste in Dean Burmester (66, -6), Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel (albei 68, -4) na vore gebring, hoewel Branden Grace (74, +2) ʼn bietjie klei getrap het.

Die Suid-Afrikaners, wat vir die Stinger-span speel, was in die spanafdeling op die hakke van die Gleeks- en Ironheads-span.

Die Amerikaner Talor Gooch (62, -10) was ná die eerste rondte met vier houe voor Burmester en Richard Bland van Engeland, met die Nieu-Seelander Danny Lee, Graeme McDowell (Noord-Ierland), Pat Perez (Amerika) en Bernd Wiesberger (Oostenryk)  saam vierde op 67 (-5).

* In die plaaslike Sonskynreeks het die 19-jarige Casey Jarvis (134, -10) op die Serengeti-gholflandgoed buite Kempton Park weer die aandag getrek toe hy ná die tweede rondte slegs drie houe agter die voorloper Jaco Ahlers (131, -13) in die Toerkampioenskap was.

Jarvis, wat as die Sonskynreeks se Nuweling van die jaar aangewys sal word, het verlede week by Dainfern die rekord in die Sonskynreeks vir die laaste rondtetelling geëwenaar toe hy 59 houe in die derde rondte aangeteken het.

Dit het aan hom die tweede posisie in die Spelerskampioenskap besorg en ná sy tweede plekke in die Suid-Afrikaanse PGA-toernooi en SDC-Ope, asook sy gesamentlike negende plekke in die Joburg-Ope en Dimension Data Pro-Aam, is sy pad na roem gebaan.

Ahlers was baie bestendig ná sy 65 houe in die tweede rondte. Hy het net op die twee kort putjies oor die tweede nege houe aan baansyfer aangeteken.

Jarvis word in die derde posisie deur Keenan Davidse  (136, -8) gevolg, met JJ Senekal op 137 (-7), Pieter Moolman (138, -6) en Ryan van Velzen, Jaco van Zyl en Martin Rohwer (almal 139, -5) ook stewig in die saal.

* In New Orleans is die Suid-Afrikaners MJ Daffue en Erik van Rooyen en Dylan Frittelli en sy Duitse spanmaat Matthias Schmid op 134 (-10) ses houe agter die voorlopers, die Amerikaners Wyndham Clark en Beau Hossler (128, -16) ná die tweede rondte van die Zürich Classic-spantoernooi wat by TPC Louisiana gespeel word.

Clark en Hossler het 67 houe in die tweede rondte aangeteken.

Die Amerikaners Patrick Cantlay en Xander Schauffele het die beste in die tweede rondte gevaar toe hulle ʼn gesamentlike 63 houe aanteken het en is net twee houe agter die voorlopers.

Daar was groot belangstelling in die vertonings van die veterane John Daly (56) en David Duval (51), maar hulle het ná die tweede rondte die handdoek ingegooi toe hulle ʼn gesamentlike 83 houe aangeteken het.

Hulle het in Donderdag se eerste rondte 75 houe aangeteken, maar hul 83 is die swakste telling nog in die toernooie, een hou swakker as Cameron Percy en Greg Chalmers se 82 in 2021.

*  In die Handa-kampioenskap wat in Japan beslis word en deel is van die DP World Tour (Europese reeks), was Jazz Janetwattananond van Thailand, Lucas Herbert van  Australië en Grant Forrest van Skotland saam voor op -10 ná die tweede rondte.

Die Duitser Maxmillian Kieffer was vierde (-9) met die Suid-Afrikaner Deon Germishuys, Takumi Kanaya (Japan) en Jordan Smith (Engeland) saam vyfde op -8.

Jacques Kruiswijk (- 5) is ook in die wedloop, terwyl die Big Easy, Suid-Afrika se Ernie Els, ʼn voëltjie op die 15de met ʼn arend op die 16de opgevolg het en met sy -4 seker gemaak het dat hy ook bly voortspeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.