Gholf: Talentvolle Jarvis kry weer sy neus voor

Suid-Afrika se Casey Jarvis. (Foto: Casey Jarvis/Instagram)

Bestendigheid is een van die belangrikste boustene in enige gholfspeler se loopbaan.

Die 20-jarige Casey Jarvis, wat in Boksburg bly en ʼn lid van die State Mines-gholfklub in Brakpan is, het dit verlede week in die Suid-Afrikaanse Ope op die Blair Atholl-baan ervaar toe hy ná die tweede ronde voorgeloop het, maar in die derde ronde uitgesak het.

Vrydagmiddag op die Leopard Creek-baan net langs die Krugerwildtuin het hy 67 houe in die derde ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap aangeteken en die voortou met een hou geneem.

Jarvis, wat op 134 houe (-10) geëindig het, is een hou voor Marco Penge van Engeland, wat 66 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Die jong amateur Christo Lamprecht en Charl Schwartzel, Paul Waring (Engeland) en Robin Williams van Suid-Afrika (hy was ná die eerste ronde voor), blaas in Penge se nek op 136 (-8).

Volgens Jarvis het hy die teleurstelling van die SA Ope reeds opsy geskuif.

“Dit is ʼn nuwe week op ʼn nuwe gholfbaan waarvan ek baie hou. Ek het dit (SA Ope) in die verlede geplaas en het hard aan die begin van die week gewerk en dit lyk asof ek die vrugte daarvan pluk,” het Jarvis in sy media-onderhoud volgens die Sonskynreeks gesê.

Jarvis het, net soos in Vrydag se eerste ronde, weer vyf voëltjies aangeteken en net op een putjie (die 17de) ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Jarvis, wat in 2022 ʼn beroepspeler geword nadat hy een van die land se beste amateurs was, het reeds die Euram Bank-ope in Oostenryk gewen en was drie keer tweede in toernooie in die Europese reeks.

Hy het op 19-jarige ouderdom ʼn magiese 59 houe in die Stella Artois-kampioenskap aangeteken en het al die nodige vaardighede om ʼn tweede toernooi in die DP World Tour te wen.

“Ek hou aan om te leer namate die naweke verby gaan. Ek probeer om kalm te bly en soveel as moontlik te leer,” het Jarvis gesê.

*  In die nuwe Grant Thornton-uitnodigingstoernooi wat in Naples in Florida beslis word en deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, het die Amerikaanse paar van Tony Finau en Nelly Korda die voortou na die eerste ronde op -16 geneem.

Hulle word op -15 gevolg deur Lucas Glover (Amerika) en Leona Maguire (Ierland) met Denny McCarthy en Megan Khang, Sahith Theegala en Rose Zhang (almal Amerika), Jason Day (Australië) en Lydia Ko (Nieu-Seeland) en die Engelse paar van Justin Rose en Charley Hull en Nick Taylor (Amerika) en Ruoning Yin (China) almal saam vierde op -14.

* In die World Championship vir seniors wat by die Concession-buiteklub in Florida gespeel word, loop die Internasionale span voor met 111.5 punte, gevolg deur Amerika (111) en die Europese span (101.5).

Die spanne het Saterdag ʼn rusdag en die toernooi word Sondag afgesluit.

Suid-Afrika se Retief Goosen en Steve Alker van Nieu-Seeland het die vaandel vir die Internasionale span gedra, met die spankaptein, Ernie Els, en KJ Choi van Suid-Korea wat ook hulle kant gebring het.

Ander bronne: The Golf Channell

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.