Gholf: Thomas Pieters wen in Abu Dhabi

Thomas Pieters van België spog met die trofee ná hy die HSBC-kampioenskapstoernooi in Abu Dhabi gewen het (23 Januarie 2022) (Foto: Ryan Lim/AFP)

Thomas Pieters (-10) van België het die HSBC-kampioenskapstoernooi in Abu Dhabi met een hou gewen.

Die Spanjaard Rafa Cabrera Bello en Shubhankar Sharma van Indië het gesamentlik tweede geëindig.

Van die groep Suid-Afrikaners in die toernooi op die DP World-toer, het Erik van Rooyen (-5) die beste gevaar. Hy was saam met ʼn groep spelers, onder wie Rory McIlroy, in die gesamentlike twaalfde plek.

Dean Burmester en Justin Harding was saam met ʼn groep spelers op -3 in die gesamentlike 25ste plek.

Charl Schwartzel (-1) het voor die laaste ronde gelyk of hy nog ʼn kans staan om selfs die toernooi te kon wen. Hy het egter ʼn liederlike 76 – vier houe swakker as die baansyfer in die laaste ronde gespeel. Dit het vier voëltjies en agt brouhoue ingesluit. Die hele toernooi was Schwartzel wisselvallig. Hy het die vier rondes voltooi in 67 (-5), 76 (+4), 68 (-4) en 76 (+4).

Daniel van Tonder en Brandon Stone het hulle laaste rondes in 77 houe voltooi – vyf houe swakker as die baansyfer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.