Die 26-jarige Suid-Afrikaner Thriston Lawrence sou Maandagoggend in Dubai met ʼn breë glimlag wakker geword het, want hy het nie net vyfde in die Europese reeks en Road to Dubai se Toerkampioenskap geëindig nie, maar sy bankbalans met sowat R6,34 miljoen laat bult.
Lawrence het met ʼn sterk eindpoging drie opeenvolgende voëltjies op die laaste drie putjies behaal en het op 271 houe (-17) saam met Spanje se Jon Rahm en Matthieu Pavon van Frankryk vyfde geëindig.
Die reeks se jaareindtoernooi is deur die 22-jarige Deen Nicolai Højgaard gewen, wat vyf voëltjies oor die laaste ses putjies aangeteken het en op 267 houe (-21) geëindig het.
Højgaard het prysgeld van $3 miljoen (bykans R57 miljoen) met sy eerste plek losgespeel.
Die Engelse Tommy Fleetwood en Matt Wallace en Viktor Hovland (Noorweë) was saam tweede op 269 (-19).
Højgaard se tweelingbroer, Rasmus Højgaard, was saam 11de op 274 (-14).
Zander Lombard, die enigste ander Suid-Afrikaner wat saam met Lawrence tussen die top 50 in die Europese reeks geëindig het om vir die Toerkampioenskap te kwalifiseer, was saam in die 22ste posisie op 278 (-10). Hy het steeds bykans R1,57 miljoen verdien.
* In die Amerikaanse PGA-reeks se RSM Classic-toernooi wat by Sea Island in Georgia gespeel is, het die jong Sweed Ludwig Åberg sy talente onderstreep toe hy die Kanadees Mackenzie Hughes met vier houe geklop het.
Åberg het 64 houe in die laaste ronde aangeteken en op 253 houe (-29) geëindig.
Hughes was op 257 (-25) in die klubhuis met die Amerikaners Tyler Duncan en Eric Cole saam derde op 260.
Dit was slegs Åberg se 11de toernooi waarin hy gespeel het sedert hy in Mei ʼn beroepspeler geword het.
Hy het in sy eerste toernooi vierde in die John Deere Classic geëindig, die Europese Meesters (sy negende toernooi) gewen, was een van Europa se seëvierende uitblinkers in die Ryderbekertoernooi en spog nou ook met sy eerste oorwinning in die PGA-reeks.
* Die Suid-Koreaan Amy Yang het by die Thiburon-buiteklub in Naples, Florida, die CME-toerkampioenskap met drie houe gewen nadat sy op 261 houe (-27) drie houe voor Japan se Nasa Hataoka en Allison Lee (Amerika) geëindig het. Hulle was saam tweede op 264 (-24).
Die Amerikaner Lilia Vu was derde (267, -21).
Yang het bykans R20 miljoen, die naasgrootste prysgeld in vrouegholf, verdien.
Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het op 284 (-4) saam 50ste geëindig.
Geluk aan Thriston. Wel gedaan. Ek weet ek gaan nou gekruisig word. Maar ai, hoekom word golf spelers, soker spelers profesionele netbal spelers ens. soveel geld betaal? Dis absurd om elke dag te sien hoeveel die atlete, teenoor ander atlete verdien. Gaan dit oor jou gawe of oor jou sak. En hiermee bedoel ek niks leliks nie. Vra maar net.
Watsenaam, enige professionele persoon, hetsy in die sport-, besigheids-, vermaaklikheids-, of waar ookal, wat in die top 2 of 3 present van sy geskose veld presteer verdien hope geld. Ek voel self soms dit is obseen die hoeveelheid geld wat sportmense verdien om eintlik maar ‘n spel te speel, maar die teensy is dat daar maatskappye is wat eweneens groot geld verdien deur hierdie spelers aan hul handelsmerke te koppel. In daardie lig gesien dra hulle ook by tot stimulering van die ekonomië, skepping van werksgeleenthede ens.