Gholf: Top30 pak mekaar in Spelerskampioenskap

Bryson DeChambeau gedurende ‘n mediakonferensie op 4 September 2018 in West Conshohocken, Pennsylvania in die VSA. Foto: Matt Slocum/AP Photo

In die Amerikaanse gholfreeks is alle oë die hele seisoen lank op die Fedex-beker gerig. Spelers bou punte deur die loop van seisoen se toernooie op en hierdie week breek die hoogtepunt aan. Die top30 spelers sal sake in die Spelerskampioenskap uitspook waarna die Fedex-beker se wenner ook bekend sal wees.

Die prysgeld vir die toernooi beloop nagenoeg R135 miljoen en dan is daar die seisoen se Fedex-beker wat dieselfde tyd afgehandel word en spog met sy eie pryspot van R150 miljoen aan die wenner.

Fedex-beker se voorlopersbord:

  1. Bryson DeChambeau 5 789
  2. Justin Rose 4 391
  3. Tony Finau 3 479
  4. Dustin Johnson 3 425
  5. Justin Thomas 3 327

Bryson DeChambeau slaan Donderdag 20 September as die groot gunsteling af. Om die waarheid te sê, kan DeChambeau selfs 29ste eindig en steeds die pryspot wen. Dit hang net af hoe ander aanspraakmakers soos Justin Rose, Tony Finau, Dustin Johnson en Justin Thomas vaar.

DeChambeau het onlangs twee toernooie in ʼn ry gewen wat sy posisie byna onaanvegbaar gemaak het. Hy het die Northern Trust en Dell Technologies-kampioenskap binne twee weke gewen.

Justin Rose op die 14de putjie van die tweede ronde van die Dell Technologies-gholfkampioenskap in Norton, Massachusetts in die VSA (1 September 2018). Foto: Michael Dwyer/AP Photo

Noem die groot name in gholf, en jy kan seker wees byna almal is dié week by die East Lake-baan in Atlanta saamgetrek vir die laaste toernooi in die PGA-reeks vir 2018.

Die groeperings vir die week se toernooi word volgens die spelers se punte in die Fedex-beker gedoen wat beteken DeChambeau en Justin Rose sal saam speel. Tony Finau en Dustin Johnson sal op hul beurt saamstap.

Ander interessante groeperings sluit in, Xander Schaufelle wat saam met Rory McIlroy speel terwyl Tiger Woods saam met Tommy Fleetwood stap.

Altesaam 20 van die 30 spelers in dié week se veld is Amerikaners. Daar is vier spelers van Groot-Brittanje en drie van Australië. Geen Suid-Afrikaners is in aksie nie.

Al 30 spelers in hierdie week op die veld kry outomatiese toegang tot aanstaande jaar se Meesters-, VSA Ope- asook die Britse Ope-kampioenskap.

Meer inligting is beskikbaar by: https://www.pgatour.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.