Gholf: Tropiese storm Henri is op pad

Spanje se Jon Rahm (Junie 2021) (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Die Spanjaard Jon Rahm, die voorste manspeler op die wêreldranglys, is met een hou voor ná die tweede ronde van die Northern Trust-gholftoernooi wat op die Liberty National-baan in New Jersey in Amerika beslis word, maar sy opmars kan Sondag deur die tropiese storm Henri gefnuik word.

Die organiseerders, wat in 2012 die toernooi tot drie rondes moes verkort het nadat dit deur orkaan Irene getref is, het reeds hul planne agtermekaar om die laaste ronde Maandag af te handel, want dan is die kans op deurdringende reën 60%, teenoor die 86%-reënkans wat Sondag voorspel word.

Rahm het die eerste twee rondes in 130 houe voltooi en hy is 12 houe onder die baansyfer nadat hy tellings van 63 en 67 op sy telkaart in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks ingevul het.

Rahm word op 131 deur die Amerikaner Tony Finau gevolg met nog drie Amerikaners, Xander Schauffele, Keith Mitchell en Justin Thomas saam in die derde posisie op 132.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (135, -7) is saam in die 17de posisie, gevolg deur Garrick Higgo 25ste op 137 en Dylan Frittelli , wat net-net die afskypunt gehaal het, saam 63ste op 141.

* In Carnoustie in Skotland is Georgia Hall van Engeland en die Amerikaner Mina Harigae saam voor ná die tweede ronde van die AIG Ope, wat een van vroue-gholf se Major-toernooie is.

Hall, wat in 2018 op Royal Latham and St Anne’s gewen het, en Harigae is saam op 137, sewe houe onder die baansyfer.

Hulle word in die derde posisie gevolg deur Sei-Young Kim van Korea en Lizette Salas van die VSA, albei op 138.

Suid-Afrika se Paula Reto is op 142.

*  In Praag blaas Suid-Afrika se Jacques Kruyswijk en Dean Burmester (albei op 137) in die voorloper Sebastian Soederberg van Swede (134) se nek ná die tweede ronde van die Tsjeggiese Ope, wat deel is van die Europese reeks.

Soederberg is een hou voor die Pool Adrian Meronk en die Amerikaner Sean Crocker (135) gevolg deur nog ʼn Sweed Henrik Stenson (136).

Brandon Stone en JC Ritchie (albei 141) en Daniel van Tonder (142) is ook goed geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.