Gholf: Van Tonder wen SA Ope

Daniel van Tonder (Foto: Sunshine Tour/ANA)

Daniel van Tonder het verlede week die afsnypunt by die Joburg Ope misgeloop en kon nie kwalifiseer om die naweek te speel nie. Vandag het hy daarvoor vergoed en die 111de SA Ope op die Gary Player-baan by Sun City gewen.

Die 30-jarige Van Tonder (-16) voeg nou sy naam by legendes soos dié van Gary Player, Ernie Els, Louis Oosthuizen, Retief Goosen, Branden Grace, Richard Sterne en Trevor Immelman. Hy het sy laaste ronde in 65 houe voltooi. Dit het agt voëltjies en een brouhou ingesluit.

Die voorlopers moes hul derde ronde vanoggend voltooi nadat weerlig en stormweer gistermiddag spel ontwrig het. Justin Harding moes nog vyf putjies voltooi en het die derde ronde afgesluit met ʼn voorsprong van vier houe. Sy naaste teenstanders was Van Tonder, Oliver Bekker en Hennie du Plessis. Harding kon nie momentum behou in die laaste ronde nie en moes tevrede wees met ʼn liederlike 77, vyf houe oor baansyfer. Dit het ʼn sewe op die tweede putjie (4 baansyfer) ingesluit.

Sake kon vir Bekker anders geloop het as hy nie ʼn swak derde ronde van 75 houe gespeel het nie.

Hy het wel gesorg vir drama aan die einde van die finale ronde. Hy het drie voëltjies op die laaste drie putjies aangeteken om gelyk te trek met Van Tonder op 15 houe onder baansyfer. Sy voëltjie op die 18de kon baie maklik ʼn arend gewees het nadat hy ʼn reuse-sethou tot op die randjie van die putjie geslaan het. Boonop het Van Tonder sy tweede hou op die 18de net-net oor die water geslaan. Hy het kalm gebly en ʼn lang sethou ingeslaan vir ʼn voëltjie en die titel.

Hennie du Plessis (-12) was in die derde plek. Dean Burmester het ʼn meesterlike laaste ronde gespeel om in die vierde plek te eindig. Hy het sy ronde in 66 houe, ses beter as die baansyfer, voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.