Gholf: Vanjaar se Nedbank-uitdaagtoernooi van die baan

Die Gary Player Country Club in Sun City vanuit die lug. (Foto: ANA)

Die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City gaan vanjaar vir die eerste keer sedert 1981 nié plaasvind nie.

Nedbank en Sun International het Vrydag aangekondig dat die langverwagte 40ste Nedbank-uitdaagtoernooi van 3 tot 6 Desember by die Gary Player Country Club in Sun City nou noodgedwonge weens die Covid-19-pandemie tot 2021 uitgestel word.

“Dit was vir ons ʼn baie moeilike besluit om te neem, maar dit is in die beste belang van die toernooi en almal wat daarby betrokke is,” het Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, gesê.

“Die Nedbank-uitdaagtoernooi was nog altyd veel meer as net ʼn gholftoernooi. Dit is ʼn geleentheid om die beste gholfspelers ter wêreld in aksie te sien, maar terselfdertyd danksy al die toeskouers ʼn bemarkingsplatform om toerisme te bevorder, die gasvryheidsbedryf ʼn hupstoot te gee en Suid-Afrika aan die wêreld te vertoon. Weens die huidige streng beperkings en maatreëls was dit net nie haalbaar om voort te gaan met vanjaar se toernooi nie. Te veel byvoordele sou in die slag gebly het.”

Toernooi-gasheer Gary Player het intussen gesê hy is seker daarvan dat die organiseerders nie die besluit ligtelik opneem nie. “Die Nedbank-uitdaagtoernooi is ʼn toernooi waarop ons almal baie trots is. As dit beteken dat ons dit vir ʼn jaar moet uitstel om ʼn nog beter Nedbank-uitdaagtoernooi in 2021 aan te bied, ondersteun ek dit ten volle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae