Gholf: Varner wen met monster-sethou

Harold Varner (Foto: Fayez Nureldine/AFP)

Die Amerikaner Harold Varner lll (-13) het die PIF Saudi International-toernooi op dramatiese wyse gewen. Hy was een hou agter sy landgenoot Bubba Watson toe hy op die 72ste en laaste putjie afgeslaan het.

Watson (-12) was ses houe agter Varner toe hulle vir die laaste ronde aangetree het. Hy het sewe voëltjies aangeteken en drie houe aan syfer afgestaan.

Dit was egter sy arend op die 18de en laaste putjie wat aan Watson ʼn voorsprong van een hou gegee het. Hy het sy laaste ronde in 64 houe voltooi.

Na ʼn swak naderhou op die agtiende putjie het dit gelyk of Varner met ʼn voëltjie tevrede sou moes wees om ʼn uitspeelstryd met Watson af te dwing. Sy bal was nie eers op die setperk nie en hy moes die bal oor ʼn heuwel slaan om net naby aan die putjie te eindig.

Dit het nie so gebeur nie want met ʼn skare wat snak na hulle asem het die balletjie gedraai en was stadig maar seker op pad na die putjie om met ʼn laaste rol oor die randjie te verdwyn.

Justin Harding het die beste gevaar van die Suid-Afrikaners. Hy was in die gesamentlike 24ste plek, elf houe agter Varner.

By die Ras al Khaimah-kampioenskapstoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate het Nicolai Hojgaard (-24) van Denemarke met vier houe gewen. Hojgaard het ʼn voorsprong van drie houe oor sy naaste teenstander, die Skot David Law, gehad toe hy in die laaste ronde afgeslaan het.

Hy was in ʼn tweegeveg met die Engelsman Jordan Smith (-20) gewikkel, maar ʼn arend op die 14de putjie en voëltjies op 17 en 18 het die knoop deurgehak.

Die Suid-Afrikaners Shaun Norris en Oliver Bekker was in die gesamentlike negende plek, nege houe agter die wenner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.