Gholf: Vasbyter McIlroy saam voor in Ohio

Rory McIlroy van Noord-Ierland. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images via AFP)

Daar is ʼn uitdrukking wat lui dat jy jou eie geluk op die gholfbaan skep.

Rory McIlroy kan daarvan getuig, want vir die derde opeenvolgende dag het hy op ʼn skeutjie geluk en op sy vasberadenheid staatgemaak om die moeilike gholfbaan by die Muirfield Village-buiteklub in Dublin, Ohio, te tem.

Die Noord-Ier loop in die Memorial-toernooi op 210 houe (-6) saam met Si-Woo Kim van Korea en David Lipsky (Amerika) voor ná die derde ronde van dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

McIlroy, wat 70 houe aangeteken het, het aan die Golf Channel gesê dat hy tussen die agste en 14de putjie nie een keer die setperk met sy regulasiehoue kon haal nie, maar dat sy goeie setwerk (hy het net 22 keer in die derde ronde geset) hom deurgetrek het.

Volgens hom is sy spel nog nie 100 persent nie, maar dat hy deur die gesukkel vasbyt.

McIlroy-hulle word op 211 houe gevolg deur die Amerikaners Mark Hubbard, Lee Hodges, Wyndham Clarke, Denny McCarthy en die Noorweër Viktor Hovland, wat almal op 211 (-5) in die klubhuis geëindig het.

McIlroy is in die binnebaan om te wen, want afgesien van Kim, wat met vier oorwinnings in die reeks spog, het die volgende ses spelers saam nog net vier keer gewen.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is saam met die Spanjaard Jon Rahm op 214 (-2) in die 23ste posisie, met Garrick Higgo op 215 (-1).

* Die son het in Hamburg, Duitsland, op nog ʼn Noord-Ier geskyn toe die 20-jarige Tom McKibbin die voortou saam met vyf ander spelers in die derde ronde van die Europese-Ope, wat deel is van die DP World Tour, geneem het.

McKibbin het die derde ronde in 72 houe voltooi en loop saam met Jordan Smith (Engeland), David Law (Skotland), die Fransman Julien Guerrier, Swede se Alexander Bjork en Denemarke se Jon Axelsen met een hou voor die Duitser Marcel Siem.

Die Suid-Afrikaners het ook goed in die derde ronde gevaar met Wilco Nienaber en Justin Walters (albei 217, -2) wat opgeskuif het en net vier houe agter die voorlopers is.

Deon Germishuys het op 221 geëindig met Jaden Schaper en Bryce Easton albei op 222.

* In die Amerikaanse LPGA-vroue-reeks wat op die Liberty National-baan in New Jersey gespeel word, loop die Amerikaner Rose Zhang (205, -11) met twee houe voor Aditi Ashok (Indië), Cheyenne Knight (Amerika) en Atthay Thitikul van Thailand.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 72 houe in die derde ronde aangeteken en is op 218 (+2) in die gesamentlike 44ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.