Gholf: Vriende se voet in Genesis-toernooi

Patrick Cantlay en Xander Schauffele (Foto: Michael Reaves/Getty Images/AFP)

Die twee Amerikaners Patrick Cantlay en Xander Schauffele is baie goeie huisvriende. Hul gesinne hou saam vakansie, hulle deel ʼn huis wanneer saam op reis, hulle was reeds 11 keer spanmaats in die Ryderbeker en in ander spantoernooie. Wanneer die laaste ronde van die Genesis-gholftoernooi in Kalifornië egter Sondagaand aanbreek, word die vriendskap opsy geskuif.

Dan is hulle teenstanders en veg om prysgeld van 4 miljoen Amerikaanse dollar in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

Cantlay loop ná die derde ronde op 199 houe (-14) met twee houe voor Schauffele en Will Zalatoris (201, -12).

Die Amerikaner Luke List is vierde op 202 (-11), met die Australiër Jason Day en nog ʼn Amerikaner Harris English saam vyfde op 203 (-10).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout, wat 70 houe in die derde ronde aangeteken het, is op 208 (-5) saam 20ste en kan sy bankbalans verder verstewig met sy bestendige spel.

Terwyl die aandag op Cantlay-hulle is, maak die nuus dat Tiger Woods hom tydens die tweede ronde weens griep onttrek het, steeds opslae.

Woods, wat op die sewende putjie was toe hy tou opgegooi het, is met ʼn gholfkarretjie klubhuis toe geneem waar hy mediese behandeling ontvang het.

Hy is later huis toe geneem en het Saterdag op X (voorheen Twitter) laat weet dat hy rus en baie beter voel, maar dat hy as beskermheer van die toernooi heel waarskynlik nie by die prysuitdeling sal wees nie.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Dimension Data Pro-Am wat op Fancourt se drie bane buite George beslis word, loop die Fransman David Ravetto (205 houe, -12) met twee houe voor die onbesonge Suid-Afrikaner Franklin Manchest (207, -10), met nog twee Fransmanne Pierre Pineau en Benjamin Hebert en Sam Hutsby (Engeland) saam derde op 208 (-9).

Hulle word gevolg deur Benjamin Follett-Smith (Zimbabwe), Victor Pastor (Spanje) en Suid-Afrika se Louis Albertse, Hennie du Plessis, Robin Williams, Luca Filippi en Zander Lombard wat almal saam op 209 (-8) is.

Die 25-jarige Manchest, wat in George grootgeword het, is maar 1 748ste op die gholfranglys en kon nog net een keer in die Sonskynreeks tussen die toptien eindig.

Maar sy plaaslike kennis van Fancourt kan hom van groot waarde wees.

* By die Riaad-buiteklub het Suid-Afrika se Paula Reto effe uitgesak in die derde ronde van die Saoedi-toernooi toe sy 74 houe aangeteken het. Sy is saam met haar Suid-Afrikaanse landgenoot Ashleigh Buhai op 214 houe (-3) 21ste.

Paphangkorn Tavatanakit van Thailand is voor op 205 houe (-11), gevolg deur Esther Henselet van Duitsland wat drie houe agter is op 208 (-8), met Charley Hull (Engeland) en Emily Kristine Pederson (Denemarke) saam derde op 209 (-7).

Dié geldryke toernooi in die Europese vrouereeks het prysgeld van 5 miljoen Amerikaanse dollar (sowat  R94 miljoen) op die spel.

Bronne: Sonskynreeks en The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.