Gholf: Walters laat sy bors in Denemarke bult

Justin Walters (Foto: Jamie Squire/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Justin Walters het in Farso in Denemarke stilweg tot binne trefafstand van die voorlopers gekruip ná die derde ronde van die Made in Himmerland-toernooi wat deel is van die Road to Dubai- en Europese gholfreekse.

Verlede Sondag het die 25-jarige Suid-Afrikaner Thriston Lawrence in die laaste ronde van die Europese Meesters na vore geskiet om Matt Wallace (Engeland) in ʼn uitklopstryd te klop en die vraag is of die 41-jarige Walters, wat nog nooit in die Europese reeks kon wen nie, maar vier keer in uitklopstryde die knie moes buig, hom dit kan nadoen.

Die Italianer Franceso Laporta en drie Engelse spelers, Ross McGowan, Oliver Wilson en Matthew Southgate, is op 196 houe (-16) met een hou voor Matthew Jordan (Engeland), met die Skot Ewen Ferguson, Tom Lewis (Engeland) en Walters op 198 (-15) saam sesde.

Verskeie ander Suid-Afrikaners vaar ook goed in dié toernooi met prysgeld van bykans R51 miljoen.

Darren Fichardt (204, -9), George Coetzee (205, -8), Zander Lombard (206, -7) en Thomas Aiken en Justin Harding (albei 208, -5) gesels ook saam.

* In Boston (Amerika) in die LIV-gholfreeks het Suid-Afrika se viertal, bestaande uit Louis Oosthuizen, Branden Grace, Charl Schwartzel en Shaun Norris, ook deeglik van hulle kennis laat neem ná die tweede ronde van dié toernooi wat oor 54 putjies beslis word.

Die Amerikaner Talor Gooch (128, -12) is voor, gevolg deur die jong Chileen Joaquin Niemann (129, -11) en dan Dustin Johnson van Amerika (130, -10).

Grace en Oosthuizen is albei op 133 (-7) met Schwartzel (137, -3) en Norris (140, gelyk aan syfer) ook tussen die voorlopers.

* In die Dana-Ope vir vroue wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks, loop Lucy Li van Amerika op 199 (-14) met een hou voor Lexi Thompson van Amerika en Caroline Masson van Duitsland (albei 200, -10).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai is ná tellings van 67 71 69 op 207 houe (-6) in die 33ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.