Gholf: Wilco blink uit in die koue en reën

Argieffoto van Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Die jong Suid-Afrikaner Wilco Nienaber het Saterdag op St. Andrews in Skotland die beste van sy landgenote gevaar in die derde ronde van die Alfred Dunhill Links-gholfkampioenskap wat deel is van die Europese reeks.

Die 20-jarige Nienaber het 68 houe aangeteken en is op 209 houe, sewe houe agter die voorloper, Danny Willett van Engeland.

Willett (33), wat Sondag verjaar, het 66 houe in die derde ronde aangeteken en is drie houe voor sy landgenote Tyrrell Hatton en Richard Bland en die twee Iere, Shane Lowry en John Murphy.

Nienaber, wat die eerste ronde op Carnoustie en die tweede ronde op Kingsbarns gespeel het, het ses voëltjies in die derde ronde op St. Andrews aangeteken, maar op twee putjies houe aan baansyfer op ʼn yskoue en reënerige Saterdag aangeteken.

Suid-Afrika se Dean Burmester is op 210 in die 19de posisie, gevolg deur Branden Grace (211), Thomas Aiken (212) en MJ Daffue en Justin Harding (albei op 214).

* Daniel Greene het Saterdagmiddag op ʼn windverwaaide Humewood-baan in Gqeberha sy eerste titel in die Sonskynreeks gewen toe hy die Vodacom Origins of Golf-toernooi ná ʼn uitspeelstryd teen Tristen Strydom gewen het.

Albei spelers het op 211 houe geëindig. Op die eerste uitspeelputjie het Greene gelyk aan baansyfer gespeel, terwyl Strydom een hou meer as baansyfer aangeteken het.

Die Engelsman Steve Surrey en Suid-Afrika se Christiaan Basson en Malcolm Mitchell was saam derde (almal op 212), met Ruan Korb, CJ du Plessis en Michael Palmer almal op 213.

*  In Mississippi is die onbesonge Amerikaner Sahith Theegala met een hou voor ná die derde ronde van die Sanderson Farms-toernooi wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Theegala is op 198, gevolg deur sy landgenote Cameron Young, Sam Burns, Dan McCarthy en Cameron Tringale wat almal een hou agter is op 199.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli is in die 27ste posisie op 205.

*  In Spanje loop die Argentyn Magdalena Simmermacher met vier houe voor ná die tweede ronde van die Estrella Damm-toernooi vir vroue.

Sy is op 138 houe (-8), vier houe voor die Brit Gabriela Cowley, Maria Hernandez (Spanje), Krista Bakker (Finland) en Kylie Henry (Skotland).

Suid-Afrika se Stacy Lee Bregman is op 143 en Lee-Anne Pace op 145.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.