Gholf: Wilco draf saam met die groot menere

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Die 21-jarige talentvolle Suid-Afrikaner Wilco Nienaber is nog in sy spreekwoordelike kinderskoene wat sy gholfloopbaan betref, maar die dag wanneer al die stukkies van die legkaart pas, gaan daar geen keer aan hom wees nie.

Nienaber het die tweede ronde van die Spaanse Ope, wat by die Club de Campion in Madrid voor duisende geesdriftige ondersteuners beslis word, in 65 houe voltooi en is op 136 houe, sewe houe agter die voorloper, Will Besseling van Frankryk.

Besseling is op 129, 13 houe minder as die baansyfer en slegs een hou voor die Spaanse gunsteling, Jon Rahm (130). Hulle word op 131 gevolg deur Shubnankar Sharma van Indië en Ross McCowan van Engeland op 131.

Darren Fichardt van Suid-Afrika is saam met Nienaber op 136, met Thomas Aiken (137), George Coetzee (138) en Zander Lombard en Justin Walters (albei op 139) wat ook die afsnypunt in dié toernooi in die Europese reeks gehaal het.

Nienaber het agt voëltjies in die tweede ronde aangeteken, danksy sy ongelooflike lang bofhoue, goeie naderspel en sethoue. As hy nie op die 6de en 13de putjies houe aan syfer afgestaan het nie, sou hy nog nader aan die voorlopers gekruip het.

* Op die TPC Summerville-baan in Las Vegas is Sung-Jae Im van Korea die voorloper ná die tweede ronde van die Shriners Hospital for Children-toernooi nadat hy 65 houe in die tweede ronde in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks aangeteken het.

Im is op 128, een hou voor die Amerikaner Chad Ramey met nog twee Amerikaners, Sam Burns en Adam Schenk (albei op 130).

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is op 132 in die 13de posisie nadat hy 67 houe in die tweede ronde aangeteken het.

*  In die LPGA-reeks vir vroue wat in West Caldwell, New Jersey, beslis word, loop die Koreaan Jin-Young Ko (-10) voor ná die onvoltooide tweede ronde.

Spel is vir langer as twee ure weens digte mis stopgesit.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (141) kon darem die tweede ronde voltooi net voordat dit te donker geraak het om voort te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.