Gholfbase byeen by Rupert-toernooi

Yasir Al-Rumayyan (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Die toekoms van wêreldgholf kan dalk net vandeesweek op St. Andrews in Skotland besleg word.

Dit sal heel ironies wees aangesien die spel sedert 1552 op die magiese St. Andrews gespeel word en dié baan algemeen as die tuiste van gholf beskou word nadat dit in die laat 15de eeu vir 50 jaar in Skotland verbied is.

Die ikoniese St. Andrews speel vandeesweek saam met Carnoustie en Kingsbarns gasheer vir die Alfred Dunhill Links-kampioenskap.

Dié pro-am-toernooi in die Skotse streke van Fife en Angus is die geesteskind van die Suid-Afrikaanse sakemagnaat Johann Rupert.

Afgesien van ʼn handvol Ryderbekerspelers, tientalle Europese gholfsterre en verskeie glanspersoonlikhede van oor die wêreld, het Rupert ook die LIV-baas, Yasir Al-Rumayyan, en ʼn PGA-direksielid, Jimmy Dunne, oorreed om saam met hom drie van die beste Links-gholfbane in die wêreld aan te durf.

Martin Slumbers, die uitvoerende hoof van die Royal & Ancient-gholfklub, die liggaam wat amateurgholf bestuur en sy hoofkwartier by St. Andrews het, en sy voorganger, Peter Dawson, wat deesdae aan die hoof staan van die organisasie wat gholf se amptelike wêreldranglys administreer, is ook onder die genooide gaste.

Johann Rupert (Foto: Richemont)

Oor die teenwoordigheid van Al-Rumayyan en Dunne het Rupert aan The Scotsman gesê sport moet mense verenig en nie verdeel nie.

Die Amerikaanse PGA-reeks en die omstrede Saoedi-Arabiese LIV-reeks het ʼn paar maande gelede vrede gemaak en is tans in onderhandelinge gewikkel om voortaan saam te werk en gholf wêreldwyd onder een sambreel te bestuur.

Al-Rumayyan en Dunne is die senior bemiddelaars en probeer om voor die einde van die jaar ʼn oplossing te vind wat die toekoms van gholf sal verseker.

Die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds (PIF) is glo bereid om miljarde dollars te gee om die spel oor die hele wêreld te befonds.

Dis nie net beroepsgholf wat voordeel sal trek nie. Al-Rumayyan is ook bereid om groot geld vir amateurgholf op voetsoolvlak te gee.

Rupert befonds top-amateurgholf in Suid-Afrika en skenk ook groot geld vir die ontwikkeling van die spel in agtergeblewe gemeenskappe.

Wat die gholftoernooi betref, is die Sweed Sebastian Sonderling (St. Andrews), Adri Arnaus van Spanje (Carnoustie) en die Amerikaner Peter Uihlein (St. Andrews) op -8 die voorlopers ná Donderdag se eerste dag van spel.

Uihlein is ʼn lid van die LIV-reeks en Al-Rumayyan se speelmaat in die pro-am-spankompetisie.

Die Suid-Afrikaners Wilco Nienaber en Zander Lombard is op -7 stewig geplaas, met hul landgenote Louis Oosthuizen, Jaco Prinsloo en Hennie du Plessis wat op -5 klaargemaak het.

Du Plessis en die oud-Bokslot Schalk Burger sr. is op -12 in die tweede plek in die spankompetisie.

Die pas aangewese nuwe hoof- uitvoerende amptenaar van Pick n Pay, Sean Summers, is ook weer op St. Andrews saam met Rupert en het saam met die Aussie-geldspeler Nathan Barbier die eerste dag op -7 afgesluit.

*In Jackson in Mississippi is Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout op -6 net twee houe agter die Amerikaner Chesson Hadley ná die eerste ronde van die San Farms-kampioenskap.

Erik van Rooyen het op -5 klaargemaak ná ʼn beter dag op die gholfbaan as wat hy die afgelope tyd beleef het.

*Paula Reto (+1) is op die voorspelde afsnypunt van The Ascendant-kampioenskap ná die eerste ronde van dié LPGA-toernooi in Colony in Texas.

Hyo-joo Kim van Suid-Korea (-7) gee die pas aan, gevolg deur Taiwan se Yu-Seag Hou, Sofia Garcia van Paraguay en Azahara Munoz van Spanje op -6.

*Op plaaslike bodem word die Sonskynreeks se Fortress-uitnodigingstoernooi op Glendower beslis.

Die 44-jarige Modderfonteinse veteraan Trevor Fisher jr. en Michael Hollick gee op -9 die pas aan nadat albei puik tellings van 63 op die Oos-Randse spogbaan aangeteken het.

Die Fancourt-speler Heinrich Bruiners is op 65 in die derde plek met Robin Williams op 66 in die vierde posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.