Glorie wag dalk vir Japan

Japan se Hideki Matsuyama by die Amerikaanse Meesters in Georgia. (Foto: Getty Images via AFP)

Dit bly een van die tergendste vrae in gholf waarom ʼn Japanse gholfspeler nog nooit die Amerikaanse Meesters, die Amerikaanse Ope of PGA-toernooi kon wen nie.

Dink maar aan begaafde spelers soos Jumbo Ozaki, Tommy Nakajima, Isao Aoki, Ryo Ishikawa en Shigeki Matsuyama.

Tien jaar gelede, in 2011, het ʼn 19-jarige Japanse amateur Hideki Matsuyama die gholfwêreld laat regop sit toe hy enigste amateur was wat die afsnypunt kon haal en saam met ʼn veel jonger Phil Mickelson op een hou onder baansyfer geëindig het.

Matsuyama het sedertdien 14 toernooie wêreldwyd gewen, waaronder drie oorwinnings in die Amerikaanse PGA-reeks.

ʼn Oorwinning in die Meesters, Ope of PGA was hom en sy landgenote egter nog nooit beskore nie.

Hy was in 2017 net een hou agter in die PGA toe hy nie ʼn kritieke sethou kon inrol nie en sy drome sien verdwyn het. Hy was in trane, maar nou kan hy dit regstel.

Wanneer Matsuyama vroeg Sondagaand (SA tyd) in die laaste ronde van vanjaar se Meesters op Augusta National in Georgia afslaan, is dit met ʼn voorsprong van vier houe. Dit nadat hy 65 houe in die derde ronde, wat weens swaar weer met een uur en 18 minute vertraag is, aangeteken het.

Matsuyama het tellings van 69 en 71 houe in die eerste twee rondes aangeteken en is op 205 elf houe onder die baansyfer. Hy is vier houe voor die Aussie Marc Leishman, Justin Rose van Engeland (wat vir twee rondes voorgeloop het), die Amerikaanse groentjie Will Zalatoris en nog ʼn Amerikaner Xander Schauffele (almal op 209) met Jordan Spieth (211) wat ook in hul nekke blaas.

Charl Schwartzel (217) is saam 29ste nadat hy 72 houe, gelyk aan baansyfer, aangeteken het.

Louis Oosthuizen (218) is ʼn verdere hou terug nadat hy ook 72 houe op sy telkaart in die derde ronde ingevul het.

Matsuyama speel in die laaste ronde saam met Schauffele, wie se ma van Japanse afkoms is en van die geselsies met Matsuyama in Japannees kan aanknoop om sy senuwees te kalmeer.

Matsuyama, wat 25ste op die jongste wêreldranglys is, was ʼn paar jaar gelede tweede op die ranglys, maar hy kon nog nooit die kringloop voltooi nie.

Nadat hy vier voëltjies en ʼn arend in die derde ronde op Augusta aangeteken het om die enigste speler in die derde ronde te word wat nie ’n hou aan baansyfer afgestaan het nie, is hy binne bereik van ʼn droom – mits hy kan kophou.

Dit sal ʼn wonderlike oomblik vir Japan wees nadat Tsubasa Kajitani verlede naweek die Augusta National-amateurtoernooi vir vroue gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.