Gʼn geluk vir SA gholfspelers in VSA toernooi

Erik van Rooyen van Suid-Afrika tydens die vierde rondte van die WGC-putjiespeltoernooi. (Foto: Michael Reaves / Getty Images via AFP)

Dit was nie een van die twee Suid-Afrikaanse gholfspelers, Dylan Frittelli en Erik van Rooyen, Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) beskore om die kwarteindronde van die WGC-putjiespeltoernooi in Austin, Texas, te haal nie.

Frittelli is met 4 en 3 deur Tommy Fleetwood van Engeland geklop, wat later op die 19de putjie deur die Amerikaner Billy Horschel in die kwarteindronde uitgeskakel is nadat hy sy bofhou op die 19de putjie buite perke geslaan het.

Van Rooyen is met 3 en 2 deur die Spanjaard Jon Rahm geklop wat met 3 en 1 deur die Amerikaner Scottie Scheffler in die kwarteindronde geklop is.

In Sondag se halfeindronde pak Scheffler (30ste gekeur) sy Amerikaanse landgenoot Matt Kuchar (52ste) terwyl die Fransman Victor Perez (31ste) teen Horschel (30) te staan kom.

Louis Oosthuizen en Christiaan Bezuidenhout is reeds in die eerste ronde uitgeskakel nadat nie een van hulle ʼn wedstryd kon wen nie.

SA spelers vaar hiér beter

Retief Goosen van Suid-Afrika Corales Puntacana-kampioenskap wat in die Dominikaanse Republiek gespeel word. (Foto: Kevin C. Cox/ Getty Images/ AFP)

Retief Goosen (216) is in die Corales Puntacana-kampioenskap wat in die Dominikaanse Republiek gespeel word, tien houe agter die gesamentlike voorlopers, Joel Dahmen en Rafael Campos (albei op 206).

Die voorlopers word in die gesamentlike derde plek gevolg deur die Engelsman Danny Willett en Michael Gligic.

Dié toernooi is deel van die Amerikaanse PGA-reeks.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (Simon) is op 216 houe 12 houe agter die voorloper, Inbee Park van Korea, ná die derde ronde van die Kia-toernooi (LPGA) wat by die Aviara-buiteklub in Carlsbad, Kalifornië, gespeel word.

Park is op 204 (12 onder baansyfer) vyf houe voor haar naaste teenstanders, Melissa Reid van Engeland, Minjee Lee van Australië en Mi-Jung Hun (Korea) wat almal op 209 houe is.

Buhai het rondes van 70, 72 en 74 gespeel en is gelyk aan baansyfer.

Op die Serengeti-baan buite Kempton Park slaan Jaco Ahlers (-12) Sondag as voorloper af in die laaste ronde van die Serengeti Pro Am, wat deel is van die Sonskynreeks.

Hy word gevolg deur Lyle Rowe, Riekus Nortje en Jaco Prinsloo (al drie op -11) met MJ Viljoen (-9) in die vyfde posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.