Grace breek SA se Sun City-wendroogte met foutlose laaste ronde

Branden Grace in aksie toe hy Sondag die Nedbank-uitdaagtoernooi gewen het. (Foto: ANA Gordon Arons/Gallo Images)

Hulle noem dit Afrika se gholf-Major, en na tien jaar is dit Sondag weer ʼn Suid-Afrikaner wat die titel en ʼn vet tjek op die Gary Playerbaan by Sun City gewen het.

Branden Grace het die Nedbank-uitdaagreeks moontlik op die 16de putjie in die laaste ronde gewen toe hy ʼn yslike sethou ingeslaan het om die voortou te neem waaraan hy oor die volgende twee putjies vasgeklou het.

Hy is die eerste Suid-Afrikaner sedert Trevor Immelman in 2007 wat op Sun City kon wen.

Grace, wat drie houe agter die voorloper Scott Jamieson afgeslaan het, het ʼn foutlose laaste ronde gespeel en al 18 setperke in die vereiste aantal houe gehaal. Hy het ses voëltjies in sy telling van 66 aangeteken. Daar was die frustrasie dat ʼn paar sethoue nie geval het nie, maar hy het kop gehou en toe daardie lange van sowat 13 meter by die 16de ingerol.

ʼn Mens kan seker voel vir die oornag-voorloper Jamieson van Skotland, wat in  die laaste ronde net twee houe aan syfer afgestaan het toe hy ʼn dubbele brouhou by die agste behaal het. Saterdag het ook hy ʼn foutlose ronde gespeel.

Hy het egter in die laaste ronde net vier voëltjies behaal en saam met die twee oor op die agste was sy rondetelling van twee onder 70 net nie genoeg nie.

Victor Dubuisson, wat derde was en een hou meer as Jamieson gespeel het,  was bestendig en het net een hou afgestaan – maar hy het ook net drie voëltjies aangeteken.

Darren Fichardt (minus vier Sondag, op 283 houe ses agter die wenner vir die toernooi ), Louis Oosthuizen  (70 houe vir 284) en die bestendige Charles Schwartzel met rondes van 69, 72 en twee syfer 72s vir 286, dieselfde telling as Haydn Porteous, was die ander Suid-Afrikaners wat onder die voorste 18 spelers geëindig het.

Vir die volledige finale- en rondetellings, klik op die volgende skakel: http://www.europeantour.com/europeantour/season=2017/tournamentid=2017092/leaderboard/index.html#/leaderboard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

james ·

Well done Amazing Grace…..na die patetiese bokvertoning het jy ons naam darem in ere herstel!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.