Grace SA se vormspeler in die PGA

Branden Grace tydens sy geskiedkundige ronde in die Britse Ope (Foto Facebook)

Branden Grace het onlangs by die Britse Ope die eerste speler in die geskiedenis van die Majors geword wat 62 vir ʼn ronde aanteken. Hy is moontlik die vorm-speler van die sewe Suid-Afrikaners wat Donderdag in die Amerikaanse PGA afslaan.

Grace het sowat ʼn maand gelede op syfer 280 sesde in die Britse Ope geëindig en kan by die by die Quail Hollow-klub in Noord-Carolina voortbou op daardie spelpeil. Die ander Suid-Afrikaners se wisselvalligheid maak hulle onwaarskynlike kandidate om die naweek tussen die voorstes te eindig.

Tog, die gehalte is daar, en enige van die onderstaande Suid-Afrikaners, met hul afslaantyde en speelmaats in die eerste twee dae kan tussen die voorstes eindig as hulle tog net vier goeie rondes aanmekaar kan sit!

Reën word vir die eerste dag voorspel, met donderstorms wat die spelers op die ander dae van die baan mag jaag weens die weerliggevaar. Dit op sigself sal die konsentrasie van die spelers beproef.

Rory McIlroy, wat nie te begaan is daaroor dat hy nie die Majors inryg nie, is die gunsteling op ʼn baan waar hy gewoonlik goed speel – en hy het reeds twee PGA-titels op sy CV. Jordan Spieth is op soek na sy vierde titel vir gholf se Grand Slam in al die Majors. Maar daar is natuurlik ʼn hele paar ander spelers wat hulle kan troef.

Die uitsoek-driebal om dop te hou is Sergio Garcia, Brooks Koepka en Jordan Spieth wat om 14:25 afslaan. Jason Day, Dustin Johnson en Henrik Stenson (14:35) as driebal kan ook vir ʼn interessante stryd sorg.

Die spelers slaan van die eerste en tiende bowwe af.

Die baan, nou 6 900 m maar met baansyfer 71, sal die lang slaners bevoordeel – veral as dit nog reën ook.

Die Suid-Afrikaanse sestal, met hulle afslaantye in die eerste ronde en speelmaats oor die eerste twee, is:

13:45 – Ernie Els, Ian Poulter, Hideki Matsuyama
13:50 – Dylan Frittelli, Sung Kang, Wesley Bryan
14:15 – Charl Schwartzel, Bubba Watson, Paul Casey
14:30 – Louis Oosthuizen, Danny Willett, JB Holmes
15:00 – Brandon Stone, Cameron Smith, Bernd Wiesberger
15:20 – Richard Sterne, Ryan Vermeer, Chris Stroud
18:55 – Branden Grace, Thomas Bjorn, Pat Perez

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.