Groot name onder die 107 wenners van die SA Ope

Louis Oosthuizen in aksie in die PGA (Foto Louis Oosthuizen Facebook)

Die SA Ope-toernooi is met ons en nóg ʼn naam gaan die week bygevoeg word by die lang lys van vorige kampioene. Gary Player het die toernooi dertien keer gewen (tussen 1956 en 1981), Bobby Locke het nege keer geseëvier, Sid Brews het agt titels gewen en George Fotheringham vyf.

Die afgelope twee jaar het Chris Paisley en Graeme Storm van Engeland die titel opgeraap. Brandon Stone van Suid-Afrika het 3 jaar gelede gewen.

Die 108ste SA Ope-toernooi (die tweede oudste toernooi in die wêreld) word van Donderdag tot Sondag by die Randparkklub in Gauteng aangebied. Sedert 2011 was die toernooi in Gauteng gespeel. In 2011 en 2012 was die aksie by Serengeti Gholfklub en van 2013 tot 2018 (Januarie vanjaar) by die Glendower Gholfklub. Die toernooi word vanjaar vir die eerste keer gesamentlik deur die Europese-, Sonskyn- en Asiatiese toer aangebied.

Van die bekendes wat sal afslaan, is Louis Oosthuizen, Branden Grace, Charl Schwartzel, Ernie Els en Brandon Stone. Onder die buitelandse spelers trek die name van Matt Wallace en Edoardo Molinari aandag.

Die SA Ope is nie net belangrik weens die kleurvolle geskiedenis nie. Die toernooi is ook belangrik weens die feit dat dit een van slegs drie Europese toernooie is wat op die Suid-Afrikaanse gholfkalender oor is. Die ander twee is die Nedbank-uitdaging op Sun City en die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek.

Borge en geld speel ʼn groot rol in die vermindering van die toernooie. Daar is net eenvoudig nie geld en borge beskikbaar in die huidige ekonomiese klimaat nie. Selfs die SA Ope sukkel om ʼn borg te bekom. Die vraag is of sport te duur geword het vir Suid-Afrika as gevolg van ons wisselkoers. Dink maar aan rugby- en krieketspelers wat baie meer in die buiteland verdien. Die SA Ope se prysgeld beloop R17,5 miljoen.

Teen Sondagmiddag (as die weer saamspeel) behoort ons te weet wie vanjaar die SA Ope se wennerskleed dra. Gaan dit een van die jong manne wees, weer ʼn oorsese speler of dalk een van die ou bekendes?

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.europeantour.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.