Gure weer kan sorg vir ʼn nat eerste dag op Augusta

Louis Oosthuizen sal graag sy eerste Meesterstoernooi wil wen nadat hy in 2012 tweede op Augusta was. (Foto: Skermskoot uit 2016-video)

Daar sal Donderdag vyf Suid-Afrikaners onder die 94 spelers wees wat in die Meesters-gholftoernooi op die Augustabaan afslaan.

Hewige donderstorms en stormsterk rukwinde word voor die afslaan van die eerste Majortoernooi vanjaar verwag en die spelers moes Woensdag hulle laaste oefenronde weens die weerliggevaar kortknip.

Die verwagting is dat die eerste ronde op ʼn baie nat baan gespeel sal word.

Die vyf Suid-Afrikaners maak deel uit van die veld wat tot minder as 100 spelers beperk word.

Vergeleke by die ander Majors is die 94 spelers verreweg die minste spelers wat kwalifiseer.

Ernie Els speel moontlik vir oulaas op Augusta, want dis die laaste jaar wat hy op grond van sy oorwinning in die Britse Ope in 2012 kwalifiseer.

Els het die Meesters egter nooit gewen nie. Hy het 23 keer in die toernooi gespeel en was in 2000 en 2004 tweede. Hy voel nie hy het vanjaar ʼn kans om te wen nie, en wil net graag ʼn goeie week hê en al vier rondes speel.

Louis Oosthuisen het die afgelope drie jaar in die top-25 spelers geëindig en hy was in 2012 tweede. Charl Schwartzel  is die trotse eienaar van die Meesters-groenbaadjie wat hy in 2011 verower het. Hy het sedertdien nie ʼn top-20ste plek gehaal nie en het ook net een oorwinning op die  PGA-toer behaal.

Branden Grace se beste vertoning op Augusta was in 2013 toe hy gesamentlik 18de geëindig het. Hy het die afgelope drie keer ná die tweede ronde nie die afsnypunt gehaal nie.

Trevor Immelman kwalifiseer steeds omdat hy in 2008 as 28-jarige die Meesters gewen het. Hy het sedertdien nie weer in die top 10 geëindig nie en die afsnypunt drie keer misgeloop Hy is tans gelyk 1 893ste op die wêreldranglys.

Die vyf Suid-Afrikaners se afslaantye Donderdag (SA tyd) is Immelman (14:11), Oosthuizen (15:06), Branden Grace (16:23), Ernie Els (18:13) en Charl Schwartzel (18:57).

♦  Gholfliefhebbers sou graag vir Tiger Woods in aksie wou sien het maar hy voel hy is nog nie toernooigereed nie. Dit lyk of sy rugspasmas ʼn groter probleem is as wat hy aanvanklik te kenne gegee het.

♦  Danny Willet se verrassende oorwinning verlede jaar is ʼn goeie rede om nie voorspellings te waag oor wie met die groenbaadjie gaan wegstap nie. Gunstelinge is Jordan Spieth wat al drie keer gespeel het, nooit swakker as tweede gekom het nie en in 2015 gewen het.

Dustin Johnson, wat tans baie goed speel, Rory McIlroy en Justin Rose word as moontlike wenners genoem. Die 46-Jarige Phil Mickelson wat drie keer in 2004/’06/’10 gewen het kan nie buite rekening gelaat word nie.

♦   Die jong Spaanse sensasie, Jon Rahm, wat in sy eerste Masters speel en wat 12de op die wêreldranglys is, mag vir ʼn opskudding sorg. Dan is daar ook Sergio Garcia wat vanjaar die Dubai Desert Classic gewen het en só lank al probeer om ʼn Major-titel in te palm.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.