Heelwat op die spel in groter Nedbank-gholftoernooi

Charl Schwartzel. Foto: ANA

Charl Schwartzel. Foto: ANA

Die grootste Nedbank-gholftoernooi nóg begin Donderdag op die Gary Player-gholfbaan by Sun City as voorloper vir die finale toernooi van die 2016 Europese reeks in Dubai, waar die voorste geldwenner in die reeks onder meer bepaal sal word.

Die geldpot vir die Nedbank-toernooi is ʼn allemintige $7 miljoen (sowat R95 miljoen) waarvan die wenner $1 166 660 (sowat R15 miljoen) in sy sak sal steek. Met gehalte spelers is dit ongetwyfeld Afrika se voorste toernooi.

Die hoogste gekeurde spelers van die Europese reeks sal by Sun City afslaan om vir oulaas hul posisie op die Europese ranglys te probeer verbeter en te kwalifiseer vir die toptien van die Dubai-toernooi waar hulle dan ook in die bonuspot van $5 miljoen (sowat R65 miljoen) kan deel.

♦ Henrik Stenson, vanjaar se Britse Ope-kampioen, is tans bo-aan die geldlys met die kampioen van die 2014-Nedbank-toernooi, Danny Willett, kort op die Sweed se hakke. Willett het ʼn baie goeie seisoen agter die rug met sy oorwinning in die Amerikaanse Meesters seker die hoogtepunt. Albei is voormalige wenners van die Nedbank-toernooi – Stenson in 2008 en Willett in 2014.

Jaco van Zyl. Foto: Michael Denker/ANA

Jaco van Zyl. Foto: Michael Denker/ANA

Dié twee behoort onder die gunstelinge te wees, en veral Stenson het ʼn baie goeie rekord op die Gary Player-baan. Hy was ook al drie keer tweede en twee keer vierde, sy laagste posisie in ses probeerslae.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is sewende en Branden Grace tiende op die lys van Europese geldwenners.

Ander Suid-Afrikaanse spelers wat op die Gary Player-gholfbaan deelneem is Charl Schwartzel, Richard Sterne, Brandon Stone, George Coetzee, Jaco van Zyl en Thomas Aiken. Retief Goosen, ʼn vorige wenner van die toernooi, sal ook speel.

Die lys van Suid-Afrikaners kan uitbrei as daar onttrekkings is.

♦  Die getal spelers is vanjaar van 30 na 72 verhoog en daar word nie na die tweede ronde aan die getal gesny nie. Die geriewe is opgegradeer om die ervaring vir die toeskouers te verbeter.

♦  Die 2016-Nedbank-toernooi vorm nou deel van een van die gholf se rykste afsluitingsreekse wat vanjaar uit die Turkse Ope, Sun City en Dubai bestaan. Dit verleen heelwat hoër status aan die Nedbank-toernooi wat met reg die Afrika “major” genoem kan word.
♦  Gary Player, Suid-Afrika se grootste gholfspeler, is die Nedbank-toernooi se amptelike gasheer op dié wêreldklasbaan wat hy meer as 25 jaar gelede ontwerp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

So bly daar is nou erkenning vir hierdie toernooi. Dit was ‘n lang opdraande stryd van Sol se miljoendollardae af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.