Higgo behaal eerste oorwinning in PGA-reeks

Garrick Higgo. (Foto: Mike Ehrmann/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die 22-jarige Suid-Afrikaner Garrick Higgo het vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in die Palmetto-toernooi, wat op Congaree in Ridgeland, Suid-Carolina, beslis is, geseëvier.

Higgo, wat slegs ʼn paar maande gelede in die Europese reeks met die beste Europese spelers afgereken het, het sy eerste oorwinning in die PGA-reeks behaal nadat die Amerikaner Chesson Hadley se senuwees begin lol en hy die kluts heeltemal kwytgeraak het.

Higgo het die laaste ronde in 68 houe voltooi en op 273 houe, 11 onder die baansyfer, geëindig. Dit was slegs sy tweede toernooi in die Amerikaanse reeks en hy het nou die vrypas om regdeur 2022 en 2023 in enige PGA-toernooi te speel.

Higgo, wat in Johannesburg gebore is en grootgeword het, studeer aan die Universiteit van Nevada in Las Vegas en het in 2019 beroepspeler geword. Hy spog reeds met ses oorwinnings in sy kort loopbaan.

Hy was uiters bestendig met tellings van 68, 69, 68 en 68, iets wat die Amerikaners, onder wie Dustin Johnson, hom nie kon nadoen nie.

Boonop het hy met die eerste prys van $1,3 miljoen (amper R18 miljoen) weggestap nadat Hadley, wat met twee houe voor was met net drie putjies om te speel, sy kanse verbrou het.

“Dis ongelooflik,” het Higgo aan die Golf Channel gesê. “Ek het die hele week net kalm gebly,” het hy in die klubhuis gesê terwyl hy op ʼn moontlike uitspeelstryd gewag het, wat toe nie nodig was nie. Hy het doodluiters sy sonbril afgehaal en met die media gesels … senuwees van staal.

Hadley, Bo van Pelt, Hudson Swafford, Doc Redman (almal van Amerika), die Colombiaan Jhonattan Vegas en Tyrrell Hatton van Engeland het almal saam tweede op 274 geëindig.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen was tiende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Wel gedaan. Sal hom volg en ondersteun. Hier het ons weer, iemand wat ‘n wen kultuur skep.

Witwolf ·

‘n Ster met sy voete deeglik op moederaarde geplant! Volgens gholf kommentators is hy in Suid-Afrika woonagtig nadat hy gevind het dat Amerika nie vir hom is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.