Hoe vaar Tiger, wil almal weet

Tiger Woods (Foto: Twitter)

Wanneer Tiger Woods die dag gholf speel, staan die gholfwêreld steeds stil.

Hoe dan anders, want hy was immers vir byna die afgelope 27 jaar in die kollig met sy oorwinnings in 15 majortoernooie en 110 oorwinnings wêreldwyd. Dan is daar ook sy manewales van die baan af, sy ernstige motorongeluk wat hom byna sy loopbaan en lewe gekos het, sy rug- en ander beserings en sy onwrikbare wilskrag om weer bo uit te kom.

Die 47-jarige Woods het twee maande gelede besluit om ná 20 maande sedert hy hom in die derde ronde van die Amerikaanse Meesters in April 2022 onttrek het, saam met 19 van die wêreld se ander voorste spelers in die Hero World Challenge-toernooi in Nassau in die Bahamas aan te tree.

Vergeet van Scottie Scheffler wat saam voorloop, vergeet van Jordan Spieth, Justin Thomas, Collin Morikawa, Viktor Hovland en Max Homa, die groot vraag op almal se lippe is hoe Tiger Woods vaar.

Woods het in die tweede ronde die horlosie teruggedraai toe hy vier voëltjies oor die eerste nege putjies aangeteken het, maar toe word sy ronde bederf toe hy op drie van die laaste nege putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Woods, wat 75 houe in die eerste ronde aangeteken het, het in die tweede ronde op die 1ste, 2de, 6de en 7de putjies voëltjies behaal, maar sy ronde op die 12de, 13de en 14de putjies bederf toe hy houe aan baansyfer afgestaan het.

Woods is saam 15de op 145 (+1).

Scheffler en sy Amerikaanse landgenoot Spieth is saam voor op 135 (-9). Hulle is een hou voor die Amerikaner Brian Harman (136, -8), gevolg deur Thomas (I37, -7) met Engeland se Matt Fitzpatrick en die Amerikaners Morikawa en Tony Finau op 138 (-6).

Woods het die afgelope ses maande nie gespeel nie en dinge was nie so skerp soos dit gewoonlik is nie.

“Ek kan by die huis speel, op die strand stap en al daardie dinge doen. Maar dit is heel anders wanneer jy in ʼn toernooi speel,” het Woods gesê.

“Jou kop maal meer, die angstigheid, die emosies is net anders. Tuis kan jy ʼn hou afstaan, maar hier kom dit jou duur te staan.”

Woods sê hy het geen probleme ondervind nie nadat hy ʼn paar maande gelede ʼn enkeloperasie ná sy motorongeluk in 2021 ondergaan het nie.

“Daar is ander dinge wat my pla, maar die enkel is reg.”

Volgens hom gaan die toernooi die rigtingwyser vir die pad vorentoe wees.

“Om die pad vorentoe te beplan, wat ons in die gimnasium moet doen om sterker te word om reg te wees vir volgende seisoen en volgende jaar.”

* In die Suid-Afrikaanse Ope wat by die Blair Atholl-buiteklub in Lanseria gespeel word, loop die onbesonge Sweed Jesper Svensson met een hou voor ná die tweede ronde.

Svensson het tellings van 68 en 67 houe in die eerste twee rondes aangeteken en is op 135 (-9) een hou voor die jong Suid-Afrikaner Casey Jarvis, nog ’n Sweed Joakim Lagergren en Matteo Manassero van Italië, wat almal saam op 136 houe (-8) in die klubhuis geëindig het.

Hulle word op 137 houe (-7) gevolg deur twee Fransmanne, David Ravetto en Frederic Lacroix, en Suid-Afrika se Ryan van Velzen met Louis de Jager, Hennie du Plessis en Oliver Bekker (almal van Suid-Afrika), Mattias Schmidt (Duitsland) en Romain Langasque (Frankryk) saam op 138 (-6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.