Homa seëvier by Sun City

Max Homa (Foto: Andreas SOLARO/AFP)

Die Amerikaner Max Homa het vooraf besluit hy gaan nie die prooi wees wat gejag gaan word nie.

Uiteindelik het die 32-jarige Yank soos ʼn leeu by Sun City gebrul en die gesogte Nedbank-uitdaagtitel syne gemaak nadat hy al die aanslae van sy teenstanders suksesvol afgeweer het.

“Dit was ʼn onvergeetlike ervaring gewees en die oorwinning is die kersie op die koek,” het Homa gesê nadat hy die Gary Player-baan getem en ʼn puik 66 (-6) in die laaste ronde aangeteken het om op ʼn totaal van 269 (-19) sy naaste teenstander met vier houe te troef.

Die seëvierende Amerikaner was van dag een af die voorloper en het nooit gewankel nie.

“Die laaste tien, elf dae was ʼn droom gewees. Eers was daar verlede naweek se safari. Geen woorde kan dit beskryf nie.

“En nou is ek die Nedbank-kampioen ná ʼn wilde dag. Ek het goed begin, maar Thorbjorn [(Olesen] het skitterend gespeel en wou nie weggaan nie. En Nicolai [Hojgaard] het my ook onder druk geplaas.

“Maar die gedagte dat ek die leeu is en nie die prooi wat gejag word, het heeltyd in my kop gemaal en my aangespoor.

“As ʼn topspeler droom jy van tweestryde en jy wil sake uitbaklei. Dis nogal pret om tog uiteindelik bo uit te kom,” het Homa ná sy welverdiende sege gesê.

En ja, hy gaan sy eie naamplaatjie kry as die 2023-kampioen van die Sonstad-skouspel.

“Ek het vandag [Sondag] weer na al die naamplaatjies op die voetpaadjie na die negende setperk gekyk en gedink hoe wonderlik dit sal wees as my naam ook daar tussen die groot name van die spel  kan pryk,” het Homa gesê.

Die nuwe Sonstad-koning kon ook nie uitgepraat raak oor die wonderlike ervaring wat hy met sy besoek aan Suid-Afrika gehad het nie.

“Om te dink ʼn mens kan rondom die wêreld vlieg en wonderlike mense ontmoet wat jou met oorgawe ondersteun, al ken hulle jou nie.

“Dis ʼn droom wat bewaarheid is en my tyd hier sal my altyd bybly,” het Homa gesê nadat hy die titel en R20 miljoen aan prysgeld ingeoes het.

Hoewel die vriendelike Yank elke oomblik in Suid-Afrika geniet het, kan hy nie wag om by die huis te kom en sy jong seun weer te sien nie.

“Toe ek by die huis weg is, het hy twee tande gehad. Hy het nou ses. Ek kan nie wag om hom weer te sien nie,” sê die jongste wenner van Afrika se majortoernooi.

Homa het Sondag met ʼn voorsprong van een hou afgeslaan en voëltjies by die tweede, derde, vyfde en sesde putjies aangeteken met ʼn brouhou tussendeur by die vierde putjie.

Toe hy op die negende bof afgeslaan het, was hy egter gelyk met Olesen, wat voor hom gespeel het en ondanks ʼn brouhou by die vyfde putjie in 31 houe (-5) gedraai het.

Homa het egter in sy eie woorde die hou van die toernooi op die negende geslaan deur sy tweede hou met ʼn drie-yster sowat ses meter van die blikkie te laat stop.

Hy het daarna die sethou van nagenoeg ses meter vir ʼn arend drie suksesvol ingerol om weer sy voorsprong tot twee houe te herstel.

Olesen het bly druk plaas op Homa en met ʼn voëltjie by die tiende weer ʼn hou nadergekruip.

Brouhoue by die twaalfde en dertiende het egter Olesen se momentum gestuit en twee verlore houe by die agttiende het ʼn einde aan sy wendrome gebring.

Met Olesen aan die wankel het Hojgaard skielik na vore getree as Homa se groot bedreiging.

Hy het sy agterstand tot twee houe laat krimp met ʼn voëltjie by die veertiende, maar die Deen kon daarna niks meer optower om nader aan Homa te kruip nie.

Inteendeel, dit was die nuwe kampioen wat in die pylvak die voëltjies opgetower het en twee van hulle by die vyftiende en sestiende putjies was die finale spyker in die doodskis van sy teenstanders wat hom probeer inhaal het.

Hojgaard (68 vir -15) het uiteindelik een hou voor Olesen (69 vir -14) in die tweede plek klaargemaak.

Die dubbele majorkampioen Justin Thomas het op -12 vierde geëindig ná ʼn puik 66 (-6) op die laaste dag, met Dan Bradbury (71) wat op -11 die vyfde posisie syne gemaak het.

Hennie du Plessis was Suid-Afrika se topspeler by die Pilanesberg-dobbelstad.

Hy het gesamentlik sesde klaargemaak nadat hy die laaste ronde in 67 houe (-5) voltooi het vir ʼn totaal van 278 (-10).

Sy vertoning het hom byna R4 miljoen in die sak gebring.

Thriston Lawrence (69 vir -4) was die volgende beste SA speler en het saam 24ste klaargemaak, met Louis de Jager (72) en Branden Grace (75) wat op +3 in die 43ste plek geëindig het.

Zander Lombard (+5) en Ockie Strydom (+14) het die agterhoede gedek.

*In Southampton in Bermuda het die Colombiaan Camilo Villegas die Butterfly-kampioenskap met twee houe gewen.

Dit was die 41-jarige Villegas se eerste sege in die PGA-reeks sedert sy 2014-oorwinning in die Wyndham-kampioenskap.

Villegas het hom die afgelope drie jaar in die gholfwildernis bevind ná die afsterwe van sy 22 maande oue dogtertjie weens kanker.

Villegas het op -24 boaan die voorlopersbord klaargemaak ná ʼn telling van 65 (-6) in Sondag se laaste ronde. Dit is die vyfde titel van sy loopbaan in die PGA-reeks.

Alex Noren van Swede het op -22 die tweede plek beklink ná ʼn telling van 68, met die Duitser Matthias Schmid derde op -21 ná ʼn 67 in die vierde ronde.

*In Phoenix in Arizona het Suid-Afrika se Ernie Els in die vierde ronde van die Charles Schwab-toernooi ʼn reuse-terugvegpoging uitgevoer, maar uiteindelik een hou agter die wenner geëindig.

Els se telling van 65 houe (-6) het hom vyf houe sien inhaal op die Nieu-Seelander Stephen Alker, maar dit was uiteindelik een te min om die kroon te verower.

Alker het die laaste dag in 70 houe (-1) voltooi vir ʼn wentotaal van 266 (-18).

Els het saam met Stephen Ames op 267 (-17) in die tweede plek geëindig en bykans R5 miljoen vir sy vertoning verdien.

Die Ier Padraig Harrington was een van vier spelers wat op -14 die vierde plek gedeel het.

Els se landgenoot Retief Goosen het ʼn 68 op die laaste dag gespeel om op 272 (-12) in die twaalfde posisie klaar te maak.

*In Belleair in Florida het Lilua Vu koning gekraai in die LPGA-reeks se Annika-kampioenskap.

Vu het op 261 houe (-19) drie houe voor Alison Lee en Azahara Munoz geëindig nadat sy die vierde ronde in 66 houe voltooi het.

Lee en Munoz het albei 67’s (-3) op hul telkaarte ingevul om op 264 (-16) te eindig.

Die Deen Emily Kristine Pedersen, wat van dag een af voorgeloop het, kon nie die druk van die laaste dag hanteer nie en het met ʼn 74 (+4) klaargemaak om op ʼn totaal van 266 (-14) die vyfde posisie te beklink op ʼn dag wat sy bitter ongemaklik voorgekom het.

Ashleigh Buhai (69 vir 280) van Suid-Afrika het in die 61ste posisie klaargemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Was opwindende golf op SC die naweek, great board heel naweek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.