Im voor, maar alle oë op Tiger

Tiger Woods in aksie op Augusta. Foto: Gregory Shamus/Getty Images/AFP.

Suid-Korea se Im Sung-jae is die voorloper ná die eerste dag se spel van die Meesters-gholftoernooi op die Augusta-baan in die VSA.

Die 24-jarige speler wat in 2020 saam met Cameron Smith tweede by die einste toernooi geëindig het, het gister ’n ronde van 67 gespeel.

Maar die dag se groot trekpleister was ongetwyfeld Tiger Woods.

Die voormalige wêreldno. 1-speler was verlede jaar in ’n ernstige motorongeluk betrokke en daar is gevrees dat sy mededingende gholfdae iets van die verlede is.

Die feit dat hy gister ’n ronde van 71 (-1) gespeel het, dui daarop dat hy nog oor dieselfde wilskrag en veggees beskik wat van hom só ’n gedugte teenstander maak.

“As ’n mens na die telbord kyk, is ek presies waar ek wil wees,” het Woods ná die dag se spel gesê.

Die 46-jarige Amerikaanse ster het tot onlangs nog gewik en geweeg oor sy Augusta-deelname – sy beseerde regterbeen kan beslis sake vir hom bemoeilik.

“Kom ek stel dit so: Dinge gaan beslis nie makliker word nie. Ek ervaar geen probleme wanneer ek ’n gholfstok swaai nie, die gestappery is egter ’n nagmerrie.”

Woods se laaste groot oorwinning was in 2019, toe hy op die einste Augusta-baan koning gekraai het.

Onder die Suid-Afrikaanse deelnemers het Garrick Higgo en Charl Schwartzel die beste gevaar, gevolg deur Erik van Rooyen en Christiaan Bezuidenhout.

  • Voorlopers:
  1. Im Sung-jae: -5
  2. Cameron Smith: -4
  3. Danny Willet, Joaquin Niemann, Scottie Scheffler en Dustin Johnson: – 3

Ander tellings:

Tiger Woods (-1), Garrick Higgo (gelyk aan baansyfer), Hideki Matsuyama (gelyk aan baansyfer), Charl Schwartzel (gelyk aan baansyfer), Erik van Rooyen (+1), Christiaan Bezuidenhout (+1), Bubba Watson (+1), Rory McIlroy (+1), Jon Rahm (+2), Brooks Koepka (+3), Louis Oosthuizen (+4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.