In of uit? Nog geen antwoord oor LIV-spelers vir Ryderbeker

Met vyf maande oor voordat die stryd in Rome beslis word, is daar nog geen duidelikheid nie oor watter spelers die twee kapteins, Zach Johnson (op foto) en Luke Donald kan oorweeg. (Foto: Patrick Smith/Getty/AFP)

Die wolk van onsekerheid oor watter spelers vir vanjaar se stryd om die Ryderbeker oorweeg gaan word, hang steeds oor wêreldgholf se mees gesogte spantoernooi.

Die aanwys van die VSA en Europa se twee spanne vir die veelgeroemde tweejaarlikse putjiespel-spantoernooi is verlede jaar in chaos gedompel met die totstandkoming van die omstrede LIV-reeks wat deur Saoedi-Arabië gefinansier word.

Die Amerikaanse PGA-reeks en sy Europese eweknie, die DP World-reeks, het dadelik die spelers geskors wat hulle by die nuwe LIV-reeks aangesluit het en verklaar dat die betrokke spelers nie vir 2023 se Ryderbeker-kragmeting in Italië oorweeg sal word nie.

Die Ryderbeker het egter sy eie bestuur en val nie onder die beheer van die PGA- en DP World-reeks nie.

Met vyf maande oor voordat die magiese interkontinentale stryd by die Marco Simone-gholfklub in Rome beslis word, is daar nog geen duidelikheid nie oor presies watter spelers die twee kapteins, Zach Johnson en Luke Donald, kan oorweeg. Dít omdat geen amptelike besluit nog oor die insluiting van LIV-spelers geneem is nie.

Elke span bestaan uit 12 spelers en die twee kapteins het elkeen ses kapteinskeuses.

Johnson sê hy het vrye keuse om te kies wie hy wil, maar dat die ses Amerikaanse spelers wat regstreeks vir die span kwalifiseer, die grootste sê sal hê oor of enige van die LIV-spelers vir insluiting oorweeg gaan word.

“Ek sal my deur die spelers laat lei wat regstreeks vir die span gekwalifiseer het. Dit is hul span, ek bestuur dit net,” het Johnson die afgelope naweek gesê.

Brooks Koepka. (Foto: Patrick Smith/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Johnson het gereageer op berigte uit Australië dat die Yanks, Dustin Johnson en Brooks Koepka, in Melbourne gesê het dat hulle bitter graag in vanjaar se Ryderbeker-stryd wil speel, maar hulle het nog geen gesprekke met Johnson daaroor gehad nie.

Koepka was verlede Sondag stewig in die wedloop om die Amerikaanse Meesterstitel te wen voordat hy in die pylvak gestruikel het.

Donald was tot dusver stil oor sy planne, maar het verlede jaar – nadat hy in Henrik Stenson se plek as die nuwe kaptein aangewys is – te kenne gegee dat hy graag die LIV-spelers sal wil oorweeg.

Stenson is van Europa se kapteinskap onthef omdat hy na die LIV-reeks oorgeloop het.

Donald het vandeesweek in ʼn onderhoud met ʼn gholftydskrif gesê hy is nog onseker oor wat hy mag doen en wie hy mag kies. Hy wag nog op die Europese span se topbestuur vir duidelikheid.

Een LIV-lid wat volgens Donald gewis deel van die Ryderbeker sal wees, is sy broer Christian. Hy is die joggie van Brendan Steele, wat sy rug vanjaar op die PGA-reeks gekeer het om hom by Phil Mickelson se LIV-span aan te sluit.

“My broer sal beslis deel wees van alles. Hy was in die verlede, toe ek ʼn assistent was, my gholfkarretjie-bestuurder en sal waarskynlik weer dieselfde rol vervul,” het Donald gesê.

Die Europese kaptein se siening dat hy graag die LIV-spelers sal wil oorweeg, word nie deur almal in sy kamp gedeel nie.

Rory McIlroy is gekant teen die insluiting van die LIV-spelers, terwyl Europa se twee groot Ryderbekersterre van die verlede, Nick Faldo en Paul McGinley, hewig gekant is teen die moontlikheid dat LIV-spelers oorweeg mag word.

Rory McIlroy van Noord-Ierland. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images via AFP)

McGinley, wat in 2002 die wensethou vir Europa op The Belfry-baan ingerol het en in 2014 die kaptein was van die seëvierende Europeërs op Gleneagles, sê die LIV-spelers het hul rûe op die DP World-reeks gekeer en moet nou met daardie besluit saamleef.

“Jy kan nie gelyktydig op twee busse ry nie. Dis die een of die ander. Hulle het ʼn besluit geneem en moet die gevolge daarvan dra. Hulle het geweet hul deelname aan die Ryderbekertoernooi sal in die gedrang kom,” sê McGinley.

Die Engelsmanne Ian Poulter en Lee Westwood was aanvanklik uitgesproke oor die Ryderbekertoernooi en hul moontlike deelname aan die skouspel as LIV-spelers.

Maar nadat die LIV-spelers vroeër vandeesmaand hul arbitrasiesaak oor hul skorsing teen die DP World-reeks verloor het, is hulle doodstil.

Poulter en Westwood het egter die steun van Matt Fitzpatrick en Shane Lowry, twee sterre wat heel waarskynlik deel sal wees van die Europese span.

Fitzpatrick en Lowry is albei oortuig dat Europa die beste spelers moet kies ongeag in watter reeks die spelers speel. Hulle sê die Ryderbeker is groter as enige individu.

Die Amerikaanse span word op 20 Augustus aangewys en Scottie Scheffler, Max Homa, Cameron Young, Jordan Spieth, Sam Burns en Patrick Cantlay is in dié stadium die ses spelers wat regstreeks kwalifiseer.

Wat Europa betref, is Jon Rahm, Rory McIlroy, Yannick Paul, Matt Fitzpatrick, Viktor Hovland en Tyrrell Hatton tans die ses spelers wat op 3 September die jawoord sal kry.

Bykomende bronne: Golf Monthly, Golf Weekly, Daily Express en Daily Mail.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.