Internasionale gholfspan se sprokie duur voort

Ernie Els saam met Hideki Matsuyama en Byeong Hun An. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Daar is baie min dinge in sport wat ’n span laat saamstaan soos spangees.

Dit het die jong internasionale gholfspan, aangevuur deur die inspirerende Ernie Els as nie-spelende kaptein, Saterdag op Royal Melbourne op die derde dag van die Presidentebeker weer bewys toe hulle met 10-8 teen die Amerikaanse span afgesluit het.

Sondag se laaste dag, wat met 12 enkelspelwedstryde besleg sal word, stuur af op ʼn rillerstryd.

In die een hoek is daar die Amerikaanse span, gelaai met ʼn rits van tien top-spelers soos Justin Thomas (4de), Dustin Johnson (5de), Tiger Woods (6de), Patrick Cantlay (7de) en Xander Schauffele (9de). Aan die ander kant ʼn jong, onervare en onbesonge internasionale span wat ʼn mengelmoes spelers van agt lande insluit.

Die Amerikaners is amper nonchalant en toon nie te veel emosie nie. Daarteenoor is Els se jong Turke vol vuur en glimlagte, hulle omhels mekaar en klop mekaar op die skouers wanneer een van hulle goed vaar.

Dink maar terug aan die Springbokspan van 1995, dink maar terug aan ʼn maand gelede toe Rassie Erasmus se Bokke die Wêreldbekertoernooi in Japan gewen het.

Tiger Woods in aksie. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Voor die Presidentebeker is die internasionale span maar min kans gee, want die Amerikaners was op papier hul meerdere.

Maar Els het sy huiswerk gedoen, hy bly hulle moed inpraat en vertel hulle hoe goed hulle werklik is. Die agt groentjies glo aan eie vermoë; hulle staan nie ʼn aks terug nie. Hulle is nie bang om te waag nie, om foute te begaan nie.

Op die eerste dag het die internasionale span die Amerikaners verras deur met 4-1 ná die vierspelle deur te loop. Op die tweede dag het die Amerikaners aan die einde begin vasbyt en op 3½ teen 6 ½ afgesluit.

Ná Saterdag se vierspelle was die internasionale span steeds gerieflik voor, maar in die middag se beurtspelle het die Amerikaners begin wys waartoe hulle in staat was. Hulle was op pad om skoonskip te maak om die dag kop aan kop af te sluit.

Maar die jong Turke, soos Abraham Ancer, Joaquin Niemann, Beong Hun An en Marc Leisman het nie gaan lê nie.

Met Els en die res van die span langs die setperk het hulle bly veg en kort nou net 5 ½ punte in 12 wedstryde om die eerste keer sedert 1998 (ook in Melbourne) weer te wen.

Dis mos waarvan sport se sprokiesverhale gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae