Joburg Ope: Jong Thriston as kampioen gekroon

Argieffoto.

Die Joburg Ope-gholftoernooi is Saterdagmiddag by die Randpark-gholfklub in Johannesburg weens reën en gepaardgaande weerlig beëindig met die 24-jarige Thriston Lawrence wat as die kampioen ná 36 putjies gekroon is.

Die toernooi, wat deel van die DP World Tour is, is Vrydag reeds tot 54 putjies verkort om die Europese spelers wat daaraan deelgeneem het, in staat te stel om huis toe te keer weens die nuwe Covid-19-variant wat kop uitgesteek het.

Die tweede ronde is weens die swak weer eers Saterdagoggend afgehandel met Lawrence wat ná twee rondes van 65 op 130 houe die voorloper met vier houe was.

Lawrence, wat ʼn lid van die Nelspruit-gholfklub is, het ʼn hou aan die baansyfer op die eerste putjie van die derde ronde afgestaan voordat dit weer begin reën het.

Spel sou later Saterdagmiddag hervat word, maar reën en ʼn byna onspeelbare baan het ʼn stokkie daarvoor gesteek. Daar is toe besluit om halt te roep.

Suid-Afrika se Zander Lombard was tweede op 134 (-8) gevolg deur nog ʼn plaaslike speler, Shaun Norris, en Engeland se Ashley Chesters saam op 135.

Die oorwinning het aan Lawrence en Chesters toelating tot aanstaande jaar se SA Ope besorg.

Dit was Lawrence se eerste oorwinning in die DP World Tour-reeks nadat hy in 2019 die Vodacom Origins-toernooi in Stellenbosch gewen het.

Die Spanjaard Angel Hidalgo en die Fransman Frederic Lacroix het op ses houe onder die baansyfer geëindig, een hou voor Suid-Afrika se Hennie du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.