Joburg-ope: Jong Wilco laat gholfkenners regop sit

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Suid-Afrika het nog altyd gholfspelers van formaat gehad wat met die bestes in die wêreld kan saamgesels en belangrike toernooie kan wen.

Dink maar terug aan Bobby Locke, Gary Player, Ernie Els, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel.

Nou volg die jong 20-jarige Wilco Nienaber in hul spore.

Nienaber (197) is met een hou voor ná die derde ronde van die Joburg-ope wat op ʼn sopnat Randpark gespeel word.

Hy word gevolg deur die jong Deen Joachim B Hansen (198) met Jacques Blaauw, Brandon Stone en Shaun Norris van Suid-Afrika en Richard Bland van Engeland wat almal op 202 is.

Nienaber, wat 63 en 67 houe in die eerste twee rondes gespeel het, het dit Saterdag met 67 houe opgevolg om op 16 onder die baansyfer te eindig.

Hy het houe op die 2de en 5de putjies aan baansyfer afgestaan, maar met vyf voëltjies daarvoor vergoed.

Hy het die afgelope drie dae reeds 21 voëltjies en ʼn arend aangeteken.

Nienaber is een van die verste slaners (indien nie die heel verste nie) in die Sonskynreeks en sy bofhoue herinner aan dié van die Amerikaanse spiertier, Bryson DeChambeau.

Maar waar DeChambeau merendeels op sy kragspel staatmaak, is Nienaber se kortspel en sethoue ook kookwater.

Hou Nienaber, wat reeds 108ste op die wêreldranglys is, maar dop.

* In Georgia in Amerika kon Charl Schwartzel (140) en Louis Oosthuizen (142) nie die valbyl vryspring in die Amerikaanse ISM Classic-toernooi nie.

Die Amerikaner Robert Streb (128) is voor en word gevolg deur die Colombiaan Camilo Villegas (130) en Bronson Burgoon (131).

Branden Grace is op 138 houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.