Johnson aan die brand in Saoedi-Arabië

Die Amerikaner Dustin Johnson. (Argieffoto: The Masters)

Die Europese en Suid-Afrikaanse gholfspelers wat in die Europese reeks speel, is seker maar alte bly dat die Amerikaner Justin Johnson nie meer gereeld hul partytjie kom bederf nie.

Johnson, die wêreld se voorste speler, is saam met ʼn rits ander Amerikaners gelok om in die Saoedi- internasionale toernooi in Saoedi-Arabië te speel.

Johnson het die derde ronde in 66 houe voltooi en is op 197 houe (13 houe onder die baansyfer) twee houe voor die Fransman Victor Perez (199).

Hulle word op 200 houe gevolg deur nog ʼn Amerikaner Tony Finau, die Engelse Tyrrell Hatton en Andy O’Sullivan en die Deen Soren Kjeldsen.

Suid-Afrika se George Coetzee is saam met ses ander spelers sewende op 201.

Coetzee het 65 houe in die derde ronde aangeteken, wat ses voëltjies ingesluit het. Hy het ongelukkig op die 6de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Daar is ʼn sterk Suid-Afrikaanse aanslag, met Wilco Nienaber (205), Christiaan Bezuidenhout, Justin Walters en Justin Harding (al drie op 207) wat op die woestynbaan floreer.

Johnson het tot dusver 15 voëltjies in die eerste drie rondes aangeteken en Saterdag net op die 16de putjie verbrou toe hy twee houe aan baansyfer afgestaan het.

* Xander Schauffele is in Phoenix, Arizona, voor ná die tweede ronde van die Waste Management-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

Schauffele is op 130 houe voor na rondes van 66 en 64.

Hy word op 131 gevolg deur sy twee Amerikaanse landgenote Steve Stricker en Keegan Bradley.

Louis Oosthuizen (136) is na sy rondes van 69 en 67 op 136, maar in die gesamentlike 21ste posisie.

Dylan Frittelli en Erik van Rooyen (albei 140) kon nie die valbyl vryspring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.