Johnson laat spat Woods se rekord

Dustin Johnson en Tiger Woods. Foto: @TheMasters/Twitter

Die Amerikaner Dustin Johnson het as kind daarvan gedroom dat hy die Meesters-gholftoernooi op Augusta wen en dat Tiger Woods die groen baadjie om sy skouers hang.

Johnson se droom is Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) waar geword toe hy die Meesters met ʼn rekordtelling van 268 houe, 20 houe onder die baansyfer, gewen het nadat hy tellings van 65, 70, 65 en 68 op sy telkaart oor die vier rondes ingevul het.

Hy het Woods en Jordan Spieth se vorige rekord vir die laagste wentelling nog met twee houe verbeter en ironies het Woods, wat verlede jaar die Meesters gewen het, die eer gehad om Johnson as nuwe kampioen te kroon.

Johnson is ook die eerste speler sedert 2002 (wie anders as Woods) wat die Meesters kon wen as die voorste speler op die wêreldranglys.

Die jong Aussie Cameron Smith, wat eers ʼn rugbyspeler was maar toe na gholf oorgeskakel het omdat hy nie daarvan gehou het om te verdedig nie, was saam met die ewe jong Koreaan Sungjae Im tweede op 273, vyf houe agter Johnson.

Smith (67, 68, 69 en 69) was die enigste speler wat al vier rondes in minder as 70 houe voltooi het.

Dustin Johnson. Foto: @TheMasters/Twitter

Nog ’n Amerikaner, Justin Thomas (274), was alleen vierde, met Suid-Afrika se Dylan Frittelli wat saam met die Noord-Ier Rory McIlroy vyfde geëindig het op 277.

Frittelli het 72 houe in die laaste ronde, gelyk aan ʼn baansyfer, aangeteken nadat sy ronde drie voëltjies ingesluit het, maar hy ook op drie putjies houe aan die baansyfer afgestaan het.

Louis Oosthuizen was saam 23ste op 283 nadat hy 70 houe in die laaste ronde op sy telkaart ingevul het.

Charl Schwartzel (284) was ’n verdere hou terug in die gesamentlike 25ste plek en Christiaan Bezuidenhout (287) was saam 38ste nadat hy 71 houe in die vierde ronde aangeteken het.

Johnson het sowat R32 miljoen ($2,07 miljoen) gewen, Frittelli sowat R6,76 miljoen en Oosthuizen R1,77 miljoen.

* Van Woods gepraat. Hy was binne trefafstand om tussen die voorlopers te eindig, maar hy het op die kort 12de putjie die bal drie keer in die water geslaan en tien houe (sewe oor syfer) op sy telkaart ingevul. Maar hy het vasgebyt en vyf voëltjies oor die laaste ses putjies aangeteken om op 287 houe (gesamentlik 38ste) te eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.