Jong Wilco het gholfwêreld aan sy voete

Wilco Nienaber (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Die toekoms van Suid-Afrikaanse gholf is in veilige hande as die 20-jarige Wilco Nienaber op sy ongelooflike talent kan voortbou.

Dié jongeling van Bloemfontein wat die bal ewe ver as die Amerikaanse spiertier Bryson DeChambeau slaan, het al die nodige vaardighede, én temperament, om nog ʼn hele paar toernooie te wen.

Hy is nou beslis die kroonprins van Suid-Afrikaanse gholf.

Wie sê so? Ervare oudspelers soos Dale Hayes en Tony Johnstone.

Nienaber, wat vir 70 putjies in die Joburg-ope op Randpark voorgeloop het, is deur die Deen Joachim B Hansen in die pylvak ingehaal en uitgestof.

Hansen, wat rondes van 66 68 64 67 gespeel het vir ʼn toernooitelling van 265, het sy eerste Europese titel gewen. Hy het slegs twee houe voor Nienaber geëindig, wat rondtes van 63 67 67 70 op sy telkaart ingevul het.

Shaun Norris (268) van Suid-Afrika was derde met die Kanadees Aaron Cockerill, Brandon Stone en die Engelsman Steve Surrey (271) saam vierde.

Die jong Nienaber wat as amateur 21 titels gewen het voordat hy verlede jaar ʼn beroepspeler geword het, was die toonbeeld van bestendigheid, maar ongelukkig het dalk sy senuwees, of was dit dalk ʼn gebrek aan ervaring, hom teen die einde begin opkeil.

Hy het op die kort syfer 3-putjie (17de) die bal byna in die water geslaan en moes ʼn byna onmoontlike hou speel met sy een voet teen ʼn helling in dik, nat gras en die ander voet byna in die water.

Dis waar die Deen sy neus voorgekry het. Nadat Nienaber ʼn hou aan baansyfer afgestaan het, het hy ook op die 18de putjie nog ʼn hou aan syfer afgestaan.

Hansen was in trane van blydskap toe hy op die 18de besef het dat tien jaar se swoeg en sweet die moeite werd was.

Niemand sou Nienaber verkwalik het as hy ook emosioneel was nie, maar hy het ontsettend baie baat gevind, al was hy tweede, en boonop het sy bankbalans met byna R2 miljoen gebult.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.