Klakous Garcia ‘selfsugtig’

Sergio Garcia. (Foto: Argief)

Sergio Garcia het die afgelope week kwaai onder die tong van die kommentator en gholfontleder van The Golf Channel, Eamon Lynch, deurgeloop.

Die 42-jarige Spanjaard het Vrydag se afsluitingsdatum vir aanstaande week se Majorka Meesters-toernooi gemis. Gevolglik is sy lidmaatskap van die Europese reeks in die gedrang en kan hy nie vir hul Ryderbeker-span gekies word nie.

Spelers moet in ’n minimum van vier toernooie speel, waarvan een in hul geboorteland, indien hulle lede van die Europese reeks wil wees en in die tweejaarlikse Ryderbeker-kragmeting speel.

Garcia het hierdie seisoen in nog net drie toernooie gespeel en aanstaande week se Majorka-toernooi is die laaste vanjaar in Spanje.

“Dis presies hoe hy is. Hy sê hy sal alles vir sy land doen en wil die Europese reeks ondersteun, maar hy doen dit nie,” sê Lynch.

Garcia, wat deesdae in die omstrede LIV-reeks speel, was aan die begin van verlede maand ook in die nuus toe hy hom ná die eerste ronde van BMW se PGA-toernooi op Wentworth aan dié toernooi onttrek het omdat hy vrot in die eerste ronde gespeel het.

Hy het geen mediese rede vir sy onttrekking verskaf nie en was reeds terug in Amerika nog voordat die tweede ronde van die Wentworth-toernooi afgehandel is.

Hy is intussen deur die Europese gholfbase beboet omdat hy sonder rede die hasepad gekies het.

Kort voordat Garcia sy rug op die Amerikaanse PGA-reeks gekeer het om hom by LIV aan te sluit, was hy ook in ’n voorval op die gholfbaan betrokke waartydens hy gesê het hy kan nie wag om die Amerikaanse reeks vaarwel toe te roep nie.

In 2019 in die Saoediese uitnodigingstoernooi het hy die baan se setperke opsetlik beskadig en is hy gediskwalifiseer.

“Sy optrede weerspieël sy persoonlikheid. Hy is ’n klakous wat net aan homself dink en niemand anders enigiets gun nie,” het Lynch oor die Spanjaard gesê.

Die voorlaaste toernooi in die LIV-reeks het Donderdag in Jeddah begin en Garcia is drie houe agter die voorloper ná die eerste van drie rondes.

Die Amerikaner Brooks Koepka gee met ’n telling van 62 houe – agt houe minder as die baansyfer – die pas aan, met Suid-Afrika se Charl Schwartzel op 64 in die tweede plek, gevolg deur Garcia, Carlos Ortiz van Meksiko, Japan se Hideto Tanihara en Peter Uihlein en Patrick Reed van Amerika drie houe terug op 65 in die derde plek.

’n Groot groep spelers, onder wie Marc Leishman van Australië, is op 66 in die gesamentlike agtste posisie.

Die Suid-Afrikaners Louis Oosthuizen (67), Shaun Norris (69) en Branden Grace (71) het werk wat voorlê oor die laaste 36 putjies indien hulle sukses wil behaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.