Knap gedaan, Jake

Jake Knapp het Sondagaand op 265 houe geëindig, 19 houe minder as die baansyfer. (Foto: Orlando Ramirez/Getty Images/AFP)

’n Paar jaar gelede was die 29-jarige Amerikaner Jake Knapp nog ʼn uitsmyter by ʼn restaurant en het hy by ʼn nagklub gewerk nadat hy sy spelersregte verloor het, maar Sondagaand op Vidanta Vallarta het sy lewe onherroeplik verander toe hy die Meksikaanse Ope-gholftoernooi met twee houe gewen het.

Knapp, wat steeds ná elke ronde teksboodskappe aan sy oorlede oupa stuur oor hoe hy gevaar het, sê hy is nie baie groot van postuur nie, maar het as uitsmyter “gemeen” genoeg gelyk om orde te handhaaf.

Hy het Sondagaand op 265 houe geëindig, 19 houe minder as die baansyfer.

Hy het nie net $1 458 000 (sowat R19 miljoen) met sy oorwinning verdien nie, maar ook ’n uitnodiging na vanjaar se Amerikaanse Meesters en Amerikaanse PGA-toernooi losgespeel. Hy sal boonop ook nog in vyf uitsoektoernooie met prysgeld van $20 miljoen (sowat R385 miljoen) elk kan speel, beginnende met die Bay Hill Classic oor twee weke.

Maar hy het in Sondagaand in die laaste ronde byna die kluts kwytgeraak toe hy ʼn voorsprong van vier houe oor die eerste sewe putjies prysgegee het.

Die Fin Sami Valimaki het in sy nek geblaas, maar Knapp het sy oorwinning op die 17de putjie verseël toe Valimaki, wat 69 houe in die laaste ronde aangeteken het, ʼn hou aan baansyfer op die syfer 5-putjie afgestaan het.

Valimaki (267, -17) was tweede, gevolg deur Stephan Jaeger van Duitsland, Justin Lower van Amerika en Pan Cheng-tsung (Taiwan) wat saam derde op 270 (-14) was.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het 70 houe in die laaste ronde aangeteken en op 272 (-12) saam agtste geëindig.

* By die Muthaiga-buiteklub in Nairobi is Darius van Driel se drome ook bewaarheid toe die 26-jarige Nederlander die Kenia-Ope met twee houe (270, -14) gewen het.

Dit was Van Driel se eerste sege in die DP World Tour (Europese reeks).

Die Spanjaard Ignacio Elvira was op 272 (-12) tweede, met die Engelsman Joseph Dean, Adrian Otaegui (Spanje) en Matthew Jordan (Engeland) saam derde (273, -11).

Suid-Afrika se Deon Germishuys het op 275 houe geëindig, met Ryan van Velzen en Jacques Kruyswijk saam op 276, Thriston Lawrence (277), Thomas Aiken (278), Louis de Jager en Pieter Moolman (albei 279) en Jayden Schaper (280).

* Op die Humewood-baan in Gqeberha is die NMB-kampioenskap, wat deel van die Sonskynreeks en Europese Uitdaagreeks is, tot 54 putjies verkort nadat die stormsterkwind nie wou saamspeel nie.

Die derde ronde is eers Sondagoggend voltooi, maar toe die wind aanhou waai het, is daar besluit om halt te roep.

Die Deen Björn Åkesson, wat in 2017 sy spelersregte verloor en gholf laat vaar het, het onlangs besluit om weer te begin speel en hom op die Uitdaagreeks toe te spits. Sondag het sy lot ook verander toe hy op -18 as wenner aangewys is.

Engeland se Lee Slattery was tweede op -17, gevolg deur die Australiër Hayden Hopewell op -16. Jaco Prinsloo het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en op -13 geëindig.

* In Oman was Suid-Afrika se Louis Oosthuizen tweede in die Oman International Series-toernooi wat by Al Mouj Golf gespeel is en deel van die Asiese reeks is.

Altesame 21 spelers wat in die LIV-reeks speel, het in dié toernooi afgeslaan in ʼn poging om weer wêreldranglyspunte te verdien om hopelik vir gholf se Major-toernooie te kwalifiseer.

Mexiko se Carlos Ortiz, wat ook in die LIV-reeks speel, het op -19 eerste geëindig om Oosthuizen (273) met vier houe uit te stof. Joaquin Niemann van Chili was derde (274).

Suid-Afrika se Branden Grace (284) en Dean Burmester (286), wat albei saam met Oosthuizen vir die Stinger-span in die LIV-reeks speel, het ook skaflik gevaar.

  • Bronne: Sonskynreeks, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.