Koepka stap in grotes se spore

Brooks Koepka is aanvanklik weens sy betrokkenheid by LIV-gholf uitgejou toe hy afgeslaan het, maar met puik spel het hy die duisende toeskouers gou aan sy kant gehad. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images via AFP)

Die Amerikaner Brooks Koepka het vroeg Maandagoggend ʼn reuseslag geslaan om die brose bande tussen spelers wat aan die Amerikaanse PGA verbonde is en diegene wat in die LIV-reeks speel, te herstel toe hy die Amerikaanse PGA wat by die Oak Hill-buiteklub buite New York gespeel is, ʼn derde keer gewen het.

Koepka, wat 67 houe in die laaste ronde aangeteken het, het op 271 houe (-9) geëindig om sy vyfde major-titel te wen.

Hy het twee houe voor die Amerikaner Scottie Scheffler en Viktor Hovland van Noorweë geëindig, wat op 273 (-7) klaargemaak het.

Scheffler het 65 houe in die laaste ronde aangeteken terwyl Hovland, wat twee houe op die 16de aan baansyfer afgestaan het, 68 houe aangeteken het.

Scheffler het met sy vertoning weer tot in die eerste plek op die wêreldranglys geskuif.

Die Australiër Cam Davis en die Amerikaners Bryson DeChambeau en Kurt Kitayama het saam op 277 (-3) vierde geëindig, met die Noord-Ier Rory McIlroy en Sepp Straka van Oostenryk op 278 (-2) saam sewende.

Suid-Afrika se Dean Burmester het op 288 houe geëindig en sy landgenoot Thriston Lawrence op 291.

Afgesien van Koepka se puik vertoning, het Michael Block, wat een van 20 klub-beroepspelers was wat aan die PGA deelgeneem het, ook groot toejuiging ontvang.

Die 46-jarige Block, wat saam met McIlroy gespeel het, het ʼn kolhou op die 15de putjie onder groot toejuiging behaal. Hy het op 281 saam 15de klaargemaak.

Koepka het hom by uitgelese geselskap aangesluit wat ook die PGA drie keer kon wen. Hulle sluit in Walter Hagen en Jack Nicklaus (albei vyf), Tiger Woods (vier) en Gene Sarazen en Sam Snead (drie).

Koepka is Saterdag weens sy betrokkenheid by LIV-gholf uitgejou toe hy afgeslaan het, maar met sy puik spel het hy die duisende toeskouers gou aan sy kant gehad. Hy is later op elke putjie ná elke hou toegejuig.

* In Lusaka het Zimbabwe se Robson Chinhoi die Zanaco-meesters ná ʼn uitspeelstryd met Neil Schietekat gewen.

Dit was Chinhoi se eerste oorwinning in sy 11de verskyning in die Sonskynreeks.

Hy en Schietekat het saam op 271 houe (-17) geëindig.

Die jong Ryan van Velzen was derde (272, -16) gevolg deur sy Suid-Afrikaanse landgenote Rupert Kaminski, Trevor Fisher (jr.), Stefan Wears-Taylor en Sean Bradley.

Die Engelsman David Wicks, wat ná die derde ronde voorgeloop het, het 75 houe in die vierde ronde aangeteken en saam tiende op 276 houe geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Veels geluk en vele meer!
Deesdae groot lekkerte as enigiets ‘establishment’ op hul neus kry.
Uitjouery hoort nêrens, veral nie by sport nie.

Kiepie ·

Kan nie sien wat sy oorwinning sou bygedra het om bande tussen spelers en ondersteuners van die twee gholfreekse te herstel nie. Supporters will support and haters will hate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.